Dit is hoe talle Modimolle-inwoners die stopstraat en voetoorgang by Hoërskool Nylstroom se ingang in Thabo Mbekistraat beskryf.
Voertuie kom dikwels die dorp vanaf Bela-Bela met groot spoed binne en stop dan nie by dié kruising met Boshoffstraat nie. Selfs voertuie wat vanuit die dorp ry, stop skaars by die voetoorgang.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het verlede week aan die werk gespring om die stopteken weer duidelik sigbaar te maak. Munisipale werkers het hulp verleen.
“Dié pad is die verantwoordelikheid van die nasionale padagentskap (Sanral). Ons probeer al twee jaar lank met hulle onderhandel om die kruising veiliger te maak deur byvoorbeeld spoedbulte aan te bring,” het James van Zyl, voor-sitter van die plaaslike Afri-Forumtak gesê.
Nie net is die stoptekens herstel nie, maar boomtakke wat bestuurders se sig belemmer het, is ook gesnoei.
Volgens Van Zyl het die organisasie reeds teer aange-koop waarmee hulle van die slaggate in die dorp wil herstel.
Marlene van Staden, die burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het gesê dat die raad tydens hul vergadering op Woensdag 27 Januarie ’n item aanvaar het vir die installering van permanente spoedkameras. Soortgelyke kameras is glo reeds in Bela-Bela opgerig.
“Die administrasie het opdrag ontvang om die week te adverteer vir ’n maatskappy wat die kameras kan installeer. Motoriste wat nie by die spoedbeperkings hou nie of oor stopstrate of rooiligte ry, sal beboet word,” het sy gesê.
Die maatskappy sal op kommissie-grondslag aangestel word en sal op eie onkoste die kamerastelsel installeer. Volgens Van Staden sal dié maatskappy wat die kameras beheer die invorderings doen en ’n kommissie-bedrag aan die munisipaliteit oorbetaal.



