Die eienaars van Ster Radio op Modimolle sit met hul hande in hul hare nadat hulle vir die tweede keer binne agt maande derduisende rande se skade gely het as gevolg van diefstal by hul sakeonderneming.
Die boosdoeners het op Saterdagoggend 9 Maart net na 04:00 die onderneming se staalroldeur geknip en opgerol. ’n Klip is daarna deur die voordeur se ruit gegooi sodat hulle toegang kon kry, het AO. James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie gesê. Die onderneming is in die hoofstraat geleë en doen onder andere verkope van en herstelwerk aan televisies en ander elektroniese toerusting.
Volgens Janine Erasmus van die onderneming het hulle sowat R60 000 se skade gely. Die diewe het ook nege splinternuwe platskermtelevisies wat wissel van 32” tot 65” in grootte gebuit.
Die onderneming het reeds ’n alarmstelsel, kameras en ’n veiligheidsmaatskappy in plek om diefstalle af te weer.
In Junie verlede jaar het inbrekers ’n gat deur die dak reg bokant die kluis gesny. Hul skade was toe op R250 000 geraam. Televisies, horlosies, gereedskap en kontant wat in die kluis was, is gesteel.
Volgens Findlay is niemand nog in hegtenis geneem nie en duur die ondersoek voort.



