Sprokie van ’n kampioen
“Ek het sommer een middag vir Andries nader geroep en hom gevra om saam met ons te speel. Ek het hom so ’n bietjie touwys gemaak, hy het die bal gevat en gerol en toe vir óns ’n ding gewys.”
Die nuutste klubkampioen van die Naboomspruit Rolbalklub in Mookgophong, Andries Matshete (36), is ’n nuweling in dié sport en het vir groot opgewondenheid by lede gesorg toe hy die ope-enkelspelkampioen én die gemengde enkelspelkampioen (mans en vroue) van die klub geword het.
“Wat hierdie prestasie nog meer uniek maak, is dat Matshete sowat vyf maande gelede, in Oktober 2018, vir die eerste keer in sy lewe rolbal gespeel het. Hy het geen afrigting gehad nie en het ’n natuurlike talent en aanvoeling vir die rol van die bal,” het Wimpie Botha, president van dié klub, aan Die Pos gesê.
Volgens dr. Piet Prinsloo, wat in beheer is van die onderhoud van die baan, het Matshete, die rolbalklub se perkehulp, vir die eerste keer die bal gerol nadat die klub ’n speler te min gehad het om te speel.
“Ek het sommer een middag vir Andries nader geroep en hom gevra om saam met ons te speel. Ek het hom so ’n bietjie touwys gemaak, hy het die bal gevat en gerol en toe vir óns ’n ding gewys ,” het Prinsloo vertel.
Matshete het in Mookgophong grootgeword en het gr. 9 aan Makhutjisha High School in Mookgophong voltooi. Daarna was hy vir etlike maande werksaam by die Buffalo-myn en later by Kudu Lodge. Hy het ook vir Botha by sy vervoeronderneming gewerk en daarna tydelik by Euphorbia Golf and Lifestyle Estate waar hy geleer het om die gras op die setperke te sny en te versorg.
Ongeveer drie jaar gelde het Botha hom gekry om as perkehulp by die klub te kom werk.
“Hoewel ek hom werketiek geleer het, is hy ’n man met integriteit en is hy trots op dit wat hy doen. Wanneer hy as speler saam prysuitdelingsfunksies moet bywoon, is hy baie beskeie,” het Botha verder gesê.
Matshete het met ’n skaam glimlag aan Die Pos gesê dat hy baie dankbaar is vir die geleentheid om te kan speel en dat hy hoop om in groter kompetisies te speel en moontlik as kampioen bekroon te word.
Klublede het ingespring en die nodige fondse bymekaar gemaak om sy ledegeld te betaal en gesorg dat hy die regte uitrusting het om in te speel. Hy is ’n volwaardige lid van die span.
Volgens Botha word daar beplan om Matshete in staat te stel om gedurende Mei vanjaar aan die Limpopo Champs of Champs-toernooi in Polokwane te gaan deelneem waar hy teen al die klubkampioene in die provinsie sal meeding.



