Die Scheepers-gesin van Vaalwater het ’n nuwe dogtertjie ryker geword. Gavin Scheepers, pa van Lumé wat op Woensdag 20 Maart gebore is, het gesê dat hulle agt jaar op haar koms gewag het en dat sy ’n geskenk van God is. Lumé is in die Ellisras Mediclinic gebore en het 3,47 kg geweeg. Mamma Juanita het gesê haar naam beteken “Lig van my lewe” en dat hul seun, Marnus (gr. 4) haar met ope arms verwelkom.
Vaalwater spog met ’n nuwe baba. Die Swanepoel-gesin van Vaalwater is verheug oor die geboorte van Rafael op Woensdag 27 Maart in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria. Die ouerpaar, Omri en Suné, sê dat Avigayail (3) baie opgewonde is oor dié nuwe boetie Op die foto hou Omri sy nuutgebore Rafael met trots vas.
Warmpatat: ’n Goeie begryper het net ’n halwe woord nodig, lui die gesegde. Dié bord wat dienste vir “sheus repair” in Modimolle adverteer, het vir ’n inwoner ’n ligte oomblik besorg.
Vaalwater juig ná die welkome reën wat op Maandag 1 April geval het. Inwoners van Vaalwater sê hulle het tot soveel as 65 mm in die dorp gemeet en 82 mm in die omgewing. Dié foto is by Laerskool Vaalwater geneem.
Die Cole-gesin van Vaalwater se hans eekhoring is baie geliefd in die huishouding. Dié kostelike troeteldiertjies met die naam Theodore is sowat vyf maande oud. Hy is aanvanklik katmelk met ’n spuitdrupper gevoer. Op 12 weke het hulle hom aan groente, vrugte, neute en beesmelk bekend gestel. Theodore laat die menskinders Alexis (7) en Levi (9) behoorlik bontstaan om aan sy grille te voldoen. Hy wil sy magie elke oggend gevryf hê en is moeilik as sy rus versteur word. Die Cole-gesin sê hy bring baie vreugde en hulle geniet sy manewales. Op die foto klim Theodore uit Levi se T-hemp waar hy snoesig ’n uiltjie geknip het.