Kenner deel nuttige wenke oor tuinbou met VLU-lede
Die Vroue Landbou-unie se Sonskyn-aandtak in Bela-Bela het tydens hul maandvergadering kundige hulp oor tuinbou gekry.
Armand de la Porte, bekende aarbeiboer, het die Sonskyn-aandtak se vroue geleer hoe om saailinge met groot sukses te plant. Hy sê die heel belangrikste is goeie potgrond. Dreinering is baie belangrik, want die wortels moenie in water staan nie. Sy aanbeveling is om gerus daardie bak of bord wat onder ’n potplant staan, uit te haal sodat die wortels lug kan kry.

Goeie lig is ook belangrik en jong plante verkies oggendson wat nie te fel is nie. Nog ’n interessante feit wat hy genoem het, is dat saailinge voor 10:00 water moet kry. Indien dit later geskied, kan die water wat op die stammetjies en blare bly lê tot swamvorming lei.
Plantjies moet ook nie te diep geplant word nie. Gate kan met ’n ou besemstok gesteek word en met ’n merkie op die stok kan almal ewe diep geplant word. Die worteltjies moet net-net deur die grond bedek word. Indien daar worteltjies bokant die grond uitsteek, sal dit groei belemmer, want die plant sal nie genoeg water kry nie en verdroog.
De la Porte het ook aan die vroue gesê saailinge moet minstens vier weke oud wees voordat dit uitgeplant kan word. Hy beveel aan dat kunsmisstokkies gebruik word by saailinge en nie korrel-kunsmis nie.
Joan Erasmus het die lede ook touwys gemaak in die maak van Lagaratera-borduurwerk.
Vroue wat belangstel om hierdie maandelikse verrykingsgeleenthede by te woon, kan vir Maria Oberholzer bel by tel. 082 558 7184.



