BlogsOpinion

Hoofartikel: Sakelui word geboelie

Hoe op aarde moet ’n kleinsakeonderneming hul deure oophou en die boeke laat klop sonder krag en water?

Dit is nie maklik om ’n sakeonderneming op die platteland se deure oop te hou nie.

In Die Pos se bykans 40 jaar was ons dikwels die aankondiger van iemand se groot droom: ’n gastehuis, ’n nuwe restaurant, kuierplek of winkel. Saam met die eienaars het ons opgewonde geraak en mense van interessanthede vertel. Net om ’n paar jaar later die slegte tyding te bring: Hulle bestaan nie meer nie. Hulle deure is toe.

 

Mense uit die stede wat beoog om nuwe ondernemings op die platteland te open, kom kuier dikwels eers by die koerantkantoor om oor ’n koppie koffie te vis: dink julle dit kan werk? Is daar so ’n behoefte in ons omgewing? Waarna is julle dorpe se mense op soek? Is julle munisipaliteite betroubaar? Waar doen die mense inkopies?

Ons is natuurlik altyd opgewonde oor nuwe uitbreidings, maar die afgelope klompie jare trek ’n mens se keel so half toe as jy hoor van iemand wat hul spaargeld in ons omgewing wil belê. Dit kán werk. Maar dit kan ook nie. Maklik is dit waaragtig nie.

’n Mens kry soms die gevoel die regering knou klein sakeondernemings af, eerder as om hulle hande te sterk.

Vat nou maar die afgelope ruk se ongekende krag- en wateronderbrekings in bykans al ons dorpe. Hoe op aarde moet ’n kleinsakeonderneming hul deure oophou en die boeke laat klop sonder krag en water? Op Bela-Bela hoor inwoners gereeld dat stukkende pype nie herstel kan word nie, want “daar is nie voorraad nie”. Slote waar kontrakteurs pype oopgegrawe het, lê al weke lank oop.

Niemand weet of die kontrakteurs terugkom om hul werk te kom afhandel nie.

Sakeondernemings in Modimolle en Mookgophong wat kla oor slaggate en slegte reuke naby hul persele, kom telkens voor dooimansdeur te staan.

Vra ’n mens ons lesers watter groot uitdagings daar nog vir sakelui is, sak jou moed in jou skoene as jy die lys hoor: Owerhede wat toelaat dat onwettige sakeondernemings soos paddastoele opskiet, swak internetseine, mense wat nie hul rekenings vereffen nie, werkloosheid, swak munisipale dienslewering. En so kan ’n mens aangaan.

Die Pos steek vandag ’n spreekwoordelike kersie aan vir ons omgewing se sakemense wat moedhou, uithou en aanhou te midde van ’n land wat die hand wat hom voed soms vieslik boelie.

Related Articles

Back to top button