Sakeman en hotel-eienaar sterf ná kankerstryd
Die sakeman Johan Jansen van Vuuren, eienaar van die Shangri-La-hotel tussen Bela-Bela en Modimolle, is die afgelope week oorlede ná ’n kankerstryd.
Vriende, familie, werknemers en kollegas het hartseer van hom afskeid geneem op sosiale media ná sy dood op Donderdag 28 Maart. Die 58-jarige Jansen van Vuuren is veral geloof vir die rol wat hy in die toerismebedryf gespeel het.
Hy het hom sedert 1988 in die Modimolle- en Bela-Bela-omgewing tuisgemaak nadat hy en sy familie die vervalle Shangri-La hotel gekoop en dit in ’n luukse driester-bestemming omskep het. Die nuwe hotel het sy deure op Moedersdag 1990 geopen.
Sedertdien het hy verskeie ander ondernemings in die omgewing op die been gebring, waaronder die ou Bronnehof-hotel in Bela-Bela wat omskep is in die Elephant Springs Hotel & Apartments.
Jansen van Vuuren en sy lewensmaat, Stef Venter, het in 2004 na Paternoster verhuis waar hulle verdere ondernemings ontwikkel het, waaronder die vyfster Abalone House & Spa en Abalone Pool Villas. Die hotelgroep South of Africa is in 2010 gevorm wat tans uit vier hotelle in die Waterberge en drie in die Wes-Kaap bestaan. Jansen van Vuuren het in 2016 afgetree.
Hy laat sy lewensmaat Venter, sy ma Anndeline Jansen van Vuuren, sy twee susters Bets Botha en Priscilla Viviers (almal van Modimolle) en sy broer Danie Jansen van Vuuren van Brakpan agter.
’n Gedenkdiens word op Saterdag 6 April om 11:00 by Shangri-La gehou.



