Local newsNews

Dorp in rou ná ongeluk by laerskool

’n Tragedie het op Donderdagmiddag 4 April in Bela-Bela afgespeel toe klein Roger Trosello (7) dood is nadat ’n voertuig hom getref het ná ’n bulletjierugbyoefening by Laerskool Warmbad se sportterrein.

Volgens sers. Frans Maponya, polisie-woordvoerder, het die ongeluk teen ongeveer 17:00 naby die hoek van Gilfillan- en Ludorfstraat plaasgevind. Roger het glo oor die pad gehardloop en teen die kant van Reagan Brent-Meek, ’n sakeman van Bela-Bela, se bewegende voertuig beland.

Volgens ooggetuies is Roger blykbaar deur die agterwiel van die voertuig getref en die momentum het hom teen ’n ander geparkeerde voertuig geslinger.

Johan “Skippie” Scheepers, bulletjie-rugbyafrigter wat ook op die toneel was, het aan Die Pos gesê Roger se stiefpa, Phillip Vosloo, en omstanders het dadelik met hom na die nabye Phodi-kliniek gehaas.

Roger is egter by die hospitaal dood verklaar.

Maponya het gesê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, maar dat geen aanklagte in hierdie stadium teen Brent-Meek oorweeg word nie.

Roger se gesin het intussen gevra dat hul privaatheid gerespekteer word totdat die begrafnis afgehandel is, het Leah-Ann Conradie, kollega en gesinsvriend wat saam met Phillip by The Courier Guy in die dorp werk, gesê.

Gerda Pringle, voorsitter van Laerskool Warmbad se beheerliggaam, het in reaksie gesê die skool se maatskaplike afdeling staan Roger se klas- en spanmaats in hierdie tragedie by.

’n Baie hartseer Brent-Meek het by navraag aan Die Pos gesê hy is ontsettend hartseer oor wat gebeur het. Hy ontvang self berading. “Dit is ’n tragiese gebeurtenis.”

’n Spesiale byeenkoms het op Vrydag 5 April by die laerskool se sportterrein plaasgevind.

Roger se gesin, die o.8-bulletjiespan, die afrigters, ouers van span- en klasmaats en Brent-Meek self was teenwoordig.

Past. Michael Dippenaar, leraar van die Nuwe Lewe Kerk in die dorp, het almal wat teenwoordig was moed ingepraat en almal het saam gebid.

Scheepers, wat saam met Hennie Diederiks, die o.8-bulletjierugbyspan afrig, het gesê dié geleentheid was goed en nodig.

Die span was baie geheg aan Roger.

“Dit is ongelooflik dat die gemeenskap so kan saamstaan. Die Here het ons almal styf vasgehou,” het hy gesê.

Die bulletjierugbyspan beoog om elke wedstryd van dié seisoen aan hom op te dra, het Scheepers gesê.

Een ouer het Roger as ’n kranige rugbyspeler en ’n “driedrukmasjien” beskryf. Ook as ’n seun met hope talent.

Roger het baie belang gestel in sweepslaan.

Pringle het gesê leerders van Laerskool Warmbad sal op Vrydag 12 April in blou klere skool toe gaan ter nagedagtenis aan Roger.

Talle mense en ondernemings het sedertdien ook aangebied om die gesin finansieel by te staan.

Laerskool Warmbad het ook ’n fonds gestig om die gesin se onkoste te dek.

Roger se begrafnis vind op Sondag 14 April om 12:00 vanuit die Nuwe Lewe Kerk in Bela-Bela plaas.

Mense wat graag ’n bydrae wil maak, kan vir Cisca van der Merwe bel by tel. 082 572 9507.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Die Pos as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button