CrimeNews

Verdagte polisiebeamptes moet in September in Modimolle-hof verskyn

Die vier voormalige Bela-Bela-polisiebeamptes wat verlede jaar deur lede van die Direktoraat vir prioriteitsmisdade (die Valke) in hegtenis geneem is op aanklagte van korrupsie, gewapende roof en ontvoering, verskyn weer eersdaags in die Modimolle-streekhof.

Sers. Humbulani Mulaudzi(39), konst. Hlengani Jan Maswanganyi (33), konst. Sibusiso Wimpy Makwela (37) en konst. Simon Sebelebele (40) is in September 2018 aangekla nadat hulle glo ’n man vanaf ’n plaaslike dobbelplek na ’n plek buite die dorp geneem en omkoopgeld geëis het. Die beamptes het die man glo gedreig dat hulle hom van geldwassery sal aankla indien hy nie opdok nie.

Die Bela-Bela-landdroshof het tydens hul laaste verskyning op Woensdag 20 Maart besluit dat die saak op Dinsdag 28 Mei in die Modimolle-streekhof aangehoor moet word.

Die hof het destyds borgtog van R5 000 elk toegestaan, waarna hulle teruggekeer het werk toe. Hulle is egter ná ’n interne verhoor deur hooggeplaastes in die polisie summier afgedank.

  • Danie van der Westhuizen (36), ’n vervoerkontrakteur van Bela-Bela wat aangekla word van diefstal en moord, het weer op Vrydag 5 April in die landdroshof in Bela-Bela verskyn.Danie is verlede saam met sy pa, Hardus van der Westhuizen (58), aangekla vir die diefstal van trokbande. Hy is ook afsonderlik aangekla vir die diefstal van voertuigonderdele.

    Danie is in Desember 2018 ook van die moord op sy pa aangekla nadat Hardus onder vreemde omstandighede in ’n Mokopane-hospitaal oorlede is. Die polisie het vroeër aan Die Pos gesê hy is vermoedelik erg aangerand.

    Die hof het borgtog van R1 000 op die twee diefstalklagte toegestaan en R5 000 op die moordklag.

    Danie het egter in Januarie vanjaar ’n nuwe regsverteenwoordiger gekry nadat sy vorige prokureur hom aan die sake onttrek het. Die diefstal- en moordsake word apart aangehoor.

    Die hof het albei sake na Donderdag 18 April uitgestel vir verdere ondersoek en die borgtog verleng.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button