’n Werker is op Saterdag 13 April buite Bela-Bela vermoor nadat ’n groep rowers hom en sy vriendin by hul woning oorrompel het.
Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het ’n groep van vier rowers vermoedelik vir William Maluleka (55) en Anna Mokloki (61) aangehou. Hulle is volgens die polisie werkers op grond wat aan ’n man met die van Malan behoort. Die hoewe-eienaar was volgens die polisie nie tuis tydens die voorval nie en hulle kon hom ook nie dadelik in die hande kry nie.
Die voorval het teen ongeveer 19:00 naby die grondpad by die bekende S-draaie in die Roodepoort-omgewing net buite Bela-Bela plaasgevind.
Hoewel die presiese gebeure tans onduidelik is, het die polisie bevestig dat die rowers vir Maluleka met ’n handwapen doodgeskiet het. Maponya het gesê dit lyk asof die rowers die wapen onder Maluleka se ken gedruk en toe die sneller getrek het. Hy is op slag dood.
Mokloki is in die bors geskiet. Sy kon egter daarin slaag om te vlug en het hulp gaan soek.
Die rowers het onder meer voertuigbatterye, ’n kragopwekker, ’n televisiestel, selfone en ’n Mahindra-bakkie gesteel. Die polisie kon teen druktyd nie bevestig of dié items aan Maponya of aan die hoewe-eienaar behoort het nie.
Kapt. Annemarie Smith, waarnemende speurtakhoof, het by navraag gesê die gesteelde bakkie is kort ná die moord verlate in Mamelodi, Pretoria, gevind.
Mokloki sterk tans in die Warmbad-hospitaal aan en is onder verdowing.
Die ondersoek na die verdagtes duur voort.
- Enigiemand met inligting kan vir kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, bel by tel. 082 565 9051, of skakel die polisie-stasie by tel. (014) 736 9733/9755.



