
Waarnemer, Bela-Bela, skryf:
Elke politieke party neem aan ’n verkiesing deel met die doelwit om te regeer, of dan, ’n sekere rol in die proses van regering te vervul.
Die veronderstelling is verder dat die party wat die regeerder word, sy onderskeie beleide so spoedig moontlik sal wil verwesenlik.
Teoreties is dit haalbaar, maar in die praktyk is dit veral om een rede nie altyd moontlik nie. Die struikelblok is die personeelkorps wat as erflating van ’n vorige regering verkry word.
Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit is ’n sprekende voorbeeld.
Die implikasie is by verskeie geleenthede gelaat — indien dit nie dalk al ook openlik erken is nie — dat samewerking van die amptenare ontbreek om die munisipaliteit na wense te laat funksioneer.
Dit grens eintlik aan ’n tragedie dat die munisipale raad (of dan die meerderheidsparty) nie gesag oor sy per-soneelkorps het nie. Enige ander party, behalwe die ANC, sal ook daarmee sukkel.
Die verskil is dat die ANC die voordeel van regstellende aksie het waarmee ’n lojale personeelkorps geskep kon en kan word. Ander partye het nie dié voordeel nie.
Sommige politieke partye is gedoem om nooit te regeer nie. Óf hulle sal nooit ’n setel verower nie, óf hulle is tot die opposisiebanke beperk.
Vir daardie partye is dit tydmors om beleide op te stel vir ’n ideaal in ’n doodloopstraat. Partye wat hulle in die opposisiebanke bevind, behoort hul lot te aanvaar en riglyne te ontwikkel om konstruktiewe opposisiepartye te wees.
Een van die riglyne kan wees om amptenare sover te kry om hul werk te doen, ongeag wie die regeerder is.



