Local newsNews

Boererate vir ’n sygladde vel

Inwoners van Vaalwater is klaarblyklik kenners op die gebied van boererate.

Die Pos het met ’n paar inwoners gaan gesels oor hoe om ’n soepel vel te behou te midde van die Bosveld se versengende droë hitte en dor winters.

Kotie Hedin, oudverpleegkundige, het ’n skatkis vol wyshede. “Skurwe vel is gewoonlik ’n aanduiding dat daar ’n tekort in die liggaam is aan magnesium en sink.”

Kosse wat magnesium bevat, is donker groenblaargroentes soos spinasie, asook kosse soos neute, sade, vis, volgraanprodukte, piesangs en suiwelprodukte. Magnesium verminder ook waterretensie.

Hedin het vir droë hakke die volgende mengsel aanbeveel: “’n Klein potjie Vaseline, gemeng met 25 ml gliserien en ’n bietjie babapoeier ingeroer om dit wit en meer smeerbaar te maak. Smeer gereeld aan en drink ook gereeld deur die dag water,” is haar raad.

Speensalf is natuurlik ook baie gewild vir ’n skurwe vel. Ina Kotze, voorsitter van die Vaalwater VLU, het gesê haar man, Johan, glo aan niks anders as speensalf vir die vel nie.
Dié boer meng dit met gliserien en wend dit gereeld aan.

Sy self volg soms die raad uit ’n boekie Wenke-allegaartjie, wat jare gelede deur die Gereformeerde Kerk Rooihuiskraal uitgegee is. Hulle raad vir wintershande werk baie goed, het sy gesê: “Meng gelyke dele eau de cologne en gliserien en vryf twee keer per dag aan die hande.

Marie van der Westhuizen, onderwyser in Vaalwater, het gesê wintershande kom van yskoue hande wat in warm water gedruk word. Haar raad is om in die winter liewer die bak skottelgoed met handskoene aan te pak.

Rika Schutte, beskuitbakker van formaat, het aan die Pos gesê sy en haar oorlede man, Dries, het na ’n radioprogram geluister waar Dana Niehaus vertel het hoe om winterstone te behandel en dat hulle van toe af nog nooit weer dié probleem gehad het nie. Sy raad was: “Klim uit ’n warm bad en smeer ZamBuksalf aan terwyl die voete nog warm is. Trek dadelik kouse aan en gaan slaap. ’n Mens moet gaan slaap, anders werk dit nie,” het sy skertsend gesê.

Sr. Juset Steyn van Vaalwater het verduidelik dat die velle van mense met bedsere ingevryf moet word (gewoonlik met Prep) om die vel taai te kry. Sy het aan die Pos gesê dat die bloedtoevoer na die vel só gestimuleer word. Die lanolien in dié salf dra by tot die soepelheid van die vel.

Hedin het ten slotte bygevoeg dat goeie eetgewoontes, oefeninge en rus die bloedtoevoer sal verbeter wat sulke velkwale sal voorkom.

Bekende kruiekweker, Santjie Marx van Alma, het ook goeie raad vir probleemhakke: “Smelt twee kerse oor ’n stadige hitte. Voeg ’n kwart koekie fyngemaakte kamfer by. Roer tot alles gesmelt is.

Laat effens afkoel (tot ’n wit skynsel vorm). Gooi paraffien by en roer om ’n sagte salf te vorm. Gooi oor in ’n lugdigte houer en wend gereeld aan ná ’n warm bad.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button