MunicipalNews

Hof steek ’n stokkie voor grondgrypers se uitbreidingsplanne

Die hooggeregshof in Polokwane het ’n stokkie voor die planne van grondbesetters in Modimolle gesteek deur ’n hofbevel uit te reik wat hulle belet om verder skoon te maak en strukture op te rig.

Besetters het op Saterdag 27 April ’n stuk grond langs die R101 tussen Phagameng en Alf Makalengstraat begin skoonmaak en erwe afgebaken. Die grond, wat in Uitbreiding 8 is en bekend staan as “Fumani”, behoort volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, grootliks aan Transnet. Die munisipaliteit besit ook ’n gedeelte daarvan.

Transnet en die munisipaliteit het die hof genader en ’n hofbevel is op Vrydag 3 Mei uitgereik.

Die balju het opdrag gekry om die besetters, met behulp van die polisie, onmiddellik te verwyder. Die oortreders, die minister van polisie en die stasiebevelvoerder van die Modimolle-polisie, is as respondente gelys.

Volgens die bevel sal die besluit bekend gemaak word aan die onbekende besetters deur aankondigings oor luidsprekers en deur ’n afskrif van die hofbevel op te rig op die grond wat beset word.

Diegene wat die hofbevel wil teenstaan, het tot 13:00 op Vrydag 12 Julie om hul besware te lug. Inwoners van die nabygeleë woonbuurt in Alf Makalengstraat het verlede week aan Die Pos gesê hulle is bekommerd oor hoe grondbesetters die waarde van hul eiendomme, asook hul veiligheid, sal raak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button