Kokanje-inwoners blink uit by meestersatletiek
Twee atlete van die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle het goue en silwer medaljes ingeryg tydens die onlangse Suid-Afrikaanse-meestersatletiekkampioenskap (SAMA) wat in Oudtshoorn gehou is.
Babsie Grobler (75) en Anette van Dyk (64) het die vrugte van baie maande se harde oefening gepluk. Die twee atlete sê die byeenkoms, waaraan atlete van regoor die land op 3 en 4 Mei deelgeneem het, was vir hulle ’n groot ervaring.
Van Dyk het in die ouderdomskategorie 60 tot 64 jaar ’n goue medalje in spiesgooi en silwer medaljes in gewiggooi, gewigstoot, hamergooi en werpskyf verwerf.
Grobler het in die ouderdomskategorie vir 75 tot 79 jaar goue medaljes vir spiesgooi en gewiggooi verwerf en silwer medaljes vir werpskyf en gewigstoot. Haar afstand van 9,1 m in die gewiggooi was op die SAMA-internasionale standaard. Indien sy weer verder as 8,5 m gooi, kwalifiseer sy om in die Springbokspan opgeneem te word.
“Ek kan nie beskryf hoe wonderlik dit was nie. Om op hierdie ouderdom nog te kan deelneem is genade,” het die 75-jarige Grobler aan Die Pos gesê. “Anette, wat al baie jare lank aan meestersatletiek deelneem, het my afgerig en gemotiveer. Dirk van der Merwe het ook my vaardighede help slyp. Ek is baie dankbaar teenoor hulle,” het sy gesê.
Albei vroue is hul lewe lank nog baie aktief. Grobler het vroeër deelgeneem aan die wêreldkampioenskap vir lyndans in Amerika. Sy het ook aan naelloop in die meestersatletiekafdeling deelgeneem. Van Dyk se groot talent lê op die langpad — sy het al 14 keer aan die Comrades-marathon deelgeneem en ses keer aan die Argus-fietsren. Sy is ook lief vir swem en het uitdagings soos die Midmarmyl en Potchmyl etlike kere aangedurf.



