Genoeg is nou genoeg, sê TLU SA oor plaasmoorde
“Die nasionale moordsyfer van ongeveer 53 mense per dag is onaanvaarbaar.”
Die aansienlike toename in plaasaanvalle en moorde sedert 2012 — en veral ná die onlangse verkiesing — is vir TLU SA ’n groot bron van kommer.
Volgens Henry Geldenhuys, adjunkpresident van die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA), is dié toedrag van sake, veral in ag genome die gepaardgaande “barbaarse marteling van slagoffers”, skrikwekkend.
“Die nasionale moordsyfer van ongeveer 53 mense per dag is onaanvaarbaar,” lui ’n verklaring van TLU SA. “Daar was in Mei alleen 46 aanvalle en sewe moorde op plase. Junie het skaars begin of daar was reeds vyf aanvalle en een moord op plase en hoewes. Dorpe en stede se statistiek is nie hierby ingesluit nie,” het Geldenhuys gesê.
TLU SA loods in die verklaring ’n striemende aanval op die regering en polisie wat volgens hulle nie die “onverklaarbare oorlogvoering teen landbouers” stopsit nie.
“Daar word daagliks van politieke verhoë uitsprake gemaak dat boere die grond waarop hulle kos vir alle inwoners van Suid-Afrika produseer, gesteel het. Pres. Cyril Ramaphosa en die kabinet swyg egter oor die aanvalle en moorde wat onverpoosd voortgaan.”
TLU SA doen voorts ’n ernstige beroep op die regering om binne die volgende maand met ’n doeltreffende en werkbare oplossing vorendag te kom.
Die organisasie het ’n beroep gedoen op alle landbou-organisasies, insetverskaffers, veiligheidsmaatskappye en almal betrokke by landelike veiligheid om druk op die regering en hul strukture uit te oefen sodat dié kwessie aandag kan geniet.



