MunicipalNews

Raad neem belangrike besluite oor munisipaliteit

Raadslede van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het verlede week vergader om na die burgemeester se begrotingstoespraak te luister en verskeie belangrike aanstellings en besluite goed te keur.

Marlene van Staden, burgemeester, het tydens haar toespraak gesê daar is gekyk na maniere hoe om die las op inwoners in moeilike ekonomiese tye te verlig. Die munisipaliteit se uitgawes moet egter ook in gedagte gehou word. “Dit was ’n moeilike begroting om saam te stel,” het sy gesê.

Een van die fokuspunte was om ’n omgewing te skep wat werkskepping sal stimuleer. “Munisipaliteite wat goed funksioneer en betroubare dienste lewer, lok beleggers wat op hul beurt werk skep,” het sy gesê. “Die munisipaliteit het in die verlede nie goed genoeg na ons ondernemings omgesien nie, veral nie dié in die nywerheidsgebied waar die paaie onbegaanbaar is nie.”

Van Staden het gesê die begrotingstekort van R171 miljoen in die 2018/2019-boekjaar is verminder na ’n tekort van R141 miljoen. Sy het raadslede daaraan herinner dat die billike toedeling wat die munisipaliteit ontvang, R40 miljoen minder is as wat Modimolle en Mookgophong ontvang het voordat dié twee dorpe onder een munisipaliteit saamgesmelt het.

Van Staden het gesê besteding op nie-voorkeurprojekte moet ingekort word. Die munisipaliteit wil ’n volledige register van hulpbehoewende inwoners saamstel, ’n onderneming aanstel om skuldinvordering te doen en voorafbetaalde elektrisiteits- en watermeters installeer.

’n Billike toedeling van R75,4 miljoen word deur die nasionale tesourie vir die 2019/2020-boekjaar weerhou omdat voorwaardelike toelaes nie deur die munisipaliteit in die 2017/2018-boekjaar bestee is nie. Dit plaas die munisipaliteit onder groot druk.

Die impak van die verhoging van tariewe vir water, elektrisiteit en eiendomsbelasting is ook bespreek.

Die raad het die geïntegreerde ontwikkelingsplan, asook die begroting, goedgekeur.

Die raad het ook die hersiening van alle personeelverwante beleide goedgekeur wat na die toelaes wat werknemers ontvang sal omsien.

Ander sake op die agenda was die aanstelling van Melusi Mhlangu as waarnemende munisipale bestuurder vir ’n tydperk van drie maande. Hy is tans die hoof- finansiële beampte. Dit volg ná ’n uitspraak van die konstitusionele hof oor die aanwysing van die munisipale bestuurder, Mapule Mokoko, wat waarnemend in die pos was nadat sy deur die provinsiale departement van plaaslike regering gesekondeer is. Sy sal nie meer dié rol vervul nie.

Eunice Ramathivhe is aangestel om vir drie maande waar te neem as bestuurder van die tegniese dienste-afdeling nadat TP Maphuta bedank het.

Die raad het besluit dat ’n aansoek, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia), ingedien moet word sodat hulle toegang kan hê tot die inligting van die forensiese oudit wat in 2018 deur die nasionale tesourie gedoen is. Geen verslag daaromtrent is tot dusver ontvang nie.

  • Die EFF het ’n nuwe proporsionele raadslid, Michael Mbezi, by sy eerste raadsvergadering verwelkom. Hy is reeds vroeër ingesweer. Mbezi vervang vir Salamina Chauke.

Die ANC het ’n vakante pos vir ’n raadslid in wyk 4 nadat Sarah Monyamane as lid van die provinsiale wetgewer ingesweer is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button