Vir die bejaarde Meisie Rheeder van Mookgophong was die afgelope paar maande ’n nagmerrie.
Rheeder het aan die einde van Februarie haar huis in die dorp aan ’n man van Botswana verkoop en toe na ’n kleiner plekkie verhuis. Volgens haar het die nagmerrie toe begin. Plunderaars het begin om die huis “leeg” te dra. Omdat die eiendom nog nie in die nuwe eienaar se naam geregistreer is nie, het die toestand van die huis haar verantwoordelikheid gebly.

Sy het aan Die Pos vertel dat sy nou al sewe klagtes van diefstal by die Mookgophong-polisie aanhangig gemaak het sonder dat veel vordering met die sake gemaak word. “Ek het een van die booswigte op ’n dag in die erf betrap en hom probeer verjaag en dadelik die polisie gebel, maar hulle het nie ’n voertuig gehad om my te help nie. Hy het oor die muur gespring en onder deur die brug in Roedtan se rigting gehardloop. Ek het hom die volgende dag weer by die hek van Gholfpark gesien stap met dieselfde klere aan. Weer kon die polisie my nie help nie,” het sy moedeloos gesê.
Dit wat nie uitgebreek en verwyder is nie, is beskadig en sal vervang moet word voordat die nuwe eienaar kan intrek.
AO George Ledwaba van die polisie in die dorp het aan Die Pos bevestig dat die sake aangemeld is en ondersoek word, maar niemand is nog aangekeer nie.
Die Pos verneem dat daar ander huise in die dorp is wat ook leegstaan en geplunder word.
Rheeder het aan Die Pos gesê sy het van haar gesteelde goedere by ’n skrootwerf in die dorp opgespoor, maar dit was só beskadig dat dit nie weer gebruik kan word nie. Sy en André Vermeulen, wat haar help met die aflewering van koerante, het al vyf nagte op matrasse in die leë huis geslaap om self die diewe te probeer aankeer. Intussen het sy wagte gekry wat haar R400 per dag kos om die plek op te pas.
’n Huis in 4de Straat in die dorp is ook al verskeie kere geplunder en die plunderaars het selfs al die plek aan die brand gesteek.
- Diewe het ook op Maandag 3 Junie probeer inbreek by die kleinhoewe van ’n bejaarde man wat in Mei in hegtenis geneem is weens die besit van vermoedelik gesteelde munisipale eiendom. Lede van die plaaslike gemeenskapspolisëringsforum (GPF) en die polisie het probeer om die boewe aan te keer, maar hulle het glo skote gevuur en daarna weggekom.
Die aangeklaagde in dié saak is intussen onverwags oorlede en die saak teen hom is daarom teruggetrek.



