Die Dalings is bekende inwoners van die omgewing en boer al geslagte lank in die Settlers-omgewing.
Dirk was op dié dag besig met voorbereidings vir die Dopperfees wat die volgende dag by die Gereformeerde Kerk in Bela-Bela plaasgevind het. Hy is daarna weg na twee plaaslike banke op die dorp om loongeld te onttrek.

Volgens die Bela-Bela-polisie sou hy vir Marten, soos afgespreek, op die grondpad sowat 8 km uit op die R101 in die rigting van Radium ontmoet om die kontant aan hom te oorhandig.
Die Pos verneem op goeie gesag dat die werkers altyd elektronies betaal word, maar dat hierdie geval ’n uitsondering was en daarom moes ’n kontantonttrekking gedoen word om vir die spesiale uitgawe voorsiening te maak.

Volgens die polisie het Marten op die grondpad verby Dirk gery toe hy opgemerk het dat daar ’n ander voertuig is wat agter Dirk aanry. Marten het omgedraai, maar toe het die rowers reeds vir Dirk van die pad gedwing en hom geskiet. Marten het stilgehou om sy broer by te staan, maar die booswigte het summier op hom ook losgebrand. Albei mans is in die lyf gewond, maar die presiese aard van hul beserings was teen druktyd nie bekend gemaak nie.
Volgens die polisie het die rowers met ongeveer R45 000 kontant en ’n selfoon op die vlug geslaan.
Marten kon daarin slaag om hulp te ontbied en talle buurtwaglede en die polisie is kort ná die eerste noodboodskap ontplooi. Die rowers het egter weggekom en is steeds op vrye voet.
Johan van der Walt van Walt Landgoedboerdery op die Springbokvlakte het op die twee gewonde mans afgekom en hulle in sy eie voertuig na die Phodi Clinic in Bela-Bela gehaas.
Familie en vriende het hulle ook na die hospitaal gehaas om die familie by te staan. Marten is per helikopter en Dirk per ambulans na die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria vervoer waar albei noodoperasies ondergaan het Sharita Daling, Marten se vrou, het aan Die Pos gesê Marten was nog tot Sondagoggend in die hoësorgeenheid, maar teen druktyd was hy reeds na ’n gewone saal oorgeplaas.
Volgens die Daling-familie gaan dit op hierdie stadium onder omstandighede goed met albei broers.
“Die dokters was verstom ná die operasies, want daar was geen skade aan enige van hul organe nie,” het Sharita gesê. “Ons sien die Here se hand in alles. Dit is net ’n absoluut Goddelike genade dat hulle vir hul kinders en vir ons gespaar is. Ons fokus op die positiewe, want dit kon soveel anders uitgedraai het.” Sy het gesê hulle is ontsettend dankbaar teenoor die Here “dat ons nie ons eggenotes en die pa’s van ons kinders verloor het nie.”
Gerdine Daling, Dirk se vrou, het haar dank teenoor die gemeenskap uitgespreek vir die ondersteuning en ook bevestig dat albei manne goed aansterk. Dirk was teen druktyd reeds uit die hospitaal ontslaan.
Volgens die polisie duur die ondersoek na die verdagtes voort.
Daar was aanvanklik verwarring op veiligheidsgroepe oor die voertuig waarin die booswigte gevlug het, maar sover die polisie kon vasstel, was dit ’n gryskleurige sportnutsvoertuig. Die nommerplaat is onbekend.
Enigiemand met inligting of wat iets verdags opgemerk het, word gevra om vir kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, te bel by tel. 082 565 9051 of die speurtak by tel. (014) 736 9733/9755.



