Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier, Vryheidsfront Plus (VF-Plus), skryf:
Twyfel, gemeng met hoop op ’n beter toekoms, is voelbaar in die stilte ná die verkiesingstorm.
Met 57% steun en ’n kabinet wat hopelik bankvas agter die president staan, kan daar daadwerklik opgetree word om die ekonomiese gemors, verval van staatsinstellings en strukturele chaos uit die weg te ruim. Daar bestaan geen verskoning meer vir pres. Cyril Ramaphosa om oorversigtig op te tree nie. Die president het immers gekry wat hy wou gehad het — ’n lojale kabinet deur hom aangestel en om as oorwinnaar uit ’n verkiesing te stap.
Sonder die wysheid van kundige, ervare en eerbare parlementslede kan hierdie wa nie deur die drif getrek word nie. Deur die aanstelling van David Mabuza as adjunkpresident, is daar reeds afbreuk aan hierdie ideaal gedoen. Tito Mboweni as minister van finansies en Pravin Gordhan van openbare ondernemings, sal hopelik positiewe seine na beleggers en graderingsagentskappe uitstuur.
Die besluit van premier David Makhura om Panyaza Lesufi weer as LUR vir onderwys aan te stel, is ’n katastrofiese skuif. Nie net vir Gauteng nie. Lesufi stel ’n swak voorbeeld vir al die ander provinsies. Die aanstelling dien as bewys van ’n regering wat nie op hoogte van sy eie beleidstandpunte is nie, sukkel met interne faksiegevegte en ’n gebrek aan kundige mense in eie geledere.
Deur hierdie aanstelling het die regering minderheidsregte en om Afrikaans ’n regmatige plek in die son te gee, geminag. Lesufi is openlik omtrent sy doelwit om Afrikaanse skole te vernietig deur hulle na Engels te transformeer. Daar bestaan geen twyfel dat hy doelgerig hiermee sal voortgaan nie. Lesufi was as LUR ’n mislukking. Hy het nie voldoende skole gebou nie en die Driehoek-tragedie dien as bewys dat hy nie vir die onderhoud van skole se infrastruktuur omgee nie.
Die VF-Plus sal amptenare soos Lesufi met mening teenstaan. Aansluitend hierby sal die party hulle vergewis daarvan dat die owerhede nie-diskriminerend optree en aandring op die beskerming van moedertaalonderrig soos deur die grondwet gewaarborg.
Dit is nou die tyd om die president en ministers verantwoordelik te hou vir beloftes wat gemaak is en om die grondwet te eerbiedig.



