’n Bekende inwoner van Rusoord in Bela-Bela en oudboer van die Tuinplaas-omgewing, MJ van den Berg, het op Woensdag 21 Junie sy 90ste verjaardag gevier. Dié mylpaalverjaardag is gevier met ’n verrassings-
partytjie wat deur sy vier kinders, hul wederhelftes, 13 kleinkinders en hul lewensmaats en 16 agterkleinkinders gereël en bygewoon is.
Warmpatat: Gawie Richter van Modimolle skryf dat dié traliewerk op die hoek van Nelson Mandela- en Chris Hanistraat voor Spar vir baie inwoners seker ’n raaisel is. “Sowat 100 jaar gelede, voor die koms van motors, was dit die afsaalplek van perderuiters. Die tooms van die perde is om die penne gehaak en die ruiters kon inkopies by Bakkers-apteek en Drogis doen. Die Gerrit Bakker-gebou dateer uit die jaar 1910 en is ’n historiese gebou, hoewel daar baie veranderinge aangebring is.”
Mense wat graag winskopies raakloop, kan gerus elke laaste Vrydag van die maand ’n draai maak by die Hervormde Kerk in Ludorfstraat, Bela-Bela, se Ietsie van Alles-mark. Daar word huishoudelike items, klere en talle ander produkte verkoop. Die items wat te koop is, is meesal skenkings van gemeentelede. Die geld wat ingesamel word, word vir die kerk se operasionele uitgawes en dienswerk aangewend. Kopers het al aangedui dat daar ’n groot behoefte bestaan vir beddegoed en gordyne. Op die foto is ’n paar gemeentelede by van die klere wat by die mark verkoop word.
Wat is nou beter as ’n bietjie Vitamine C in die winter? Past. Ernst Redelinghuys van die AGS-gemeente in Vaalwater, het ’n krat lemoene as geskenk gekry en dit goed gedink om dié meevaller met die personeel van Laerskool Vaalwater te deel. Hy en sy vrou, Ansie, is geliefde inwoners van Vaalwater en staatmakers in die gemeenskap.