
Marcelle Maritz, Vryheidsfront Plus: lid van die provinsiale wetgewer (LPW) en provinsiale leier: Limpopo, skryf:
Daar sal dringende ingryping op die hoogste vlak moet kom, selfs van die president, om ’n moontlike bloedbad te verhinder ná die koelbloedige moord op raadslid Vaaltyn Kekana, voorsitter van die openbare rekeningekomitee in die Mogalakwena-munisipaliteit, en Ralph Kanyane, takbestuurder van die ANC in Mogalakwena (Groter Potgietersrus, Bakenberg en Koedoesrand/Rebone).
Die moord op Kekana en Kanyane skep die gevoel van magteloosheid by die gemeenskap en onder sekere werknemers van die munisipaliteit wat moeg geveg is teen korrupsie in die munisipaliteit.
Die VF Plus het voorheen uit hoofde van munisipale werksaamhede ’n goeie verhouding met Kekana gehad. Hy het hom bewys as ’n eerbare persoon en het die VF Plus se gevoel oor korrupsie en bedrog in die munisipaliteit gedeel.
Dit is jammer dat ’n persoon wat opgestaan het teen korrupsie en bedrog en dit ook ondersoek het, met sy lewe moes boet. Sy dood is ’n bewys van hoe diepgewortel misdaad in Mogalakwena is aangesien die VF Plus daarvan oortuig is dat dit ’n rol in die moorde gespeel het.
Diegene wat dink hulle het die reg om iemand se lewe koelbloedig te neem en dat hulle daarmee kan wegkom, is duidelik onder die indruk dat hulle beskerm sal word.
Die wortel van die kwaad strek verder as net die Mogalakwena-munisipaliteit en daar sal op die hoogste vlak ingegryp moet word om ’n dreigende bloedbad te vermy. Die gemeenskap se gemoedere is naby breekpunt.
Die VF Plus dring daarop aan dat die voorval met groot dringendheid ondersoek word en dat daar genadeloos teen die skuldiges opgetree word.
Die VF Plus in Limpopo wil hiermee sy medelye uitspreek teenoor die naasbestaandes van die vermoordes en die gemeenskap van Mogalakwena.



