
Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier, Vryheidsfront Plus, skryf:
Die geslaagdheid van ’n koalisieregering hang af van die bereidwilligheid van die verskillende partye om saam te werk.
Indien dit vir alle rolspelers nie om die saak gaan nie, maar om eiebelang, lei dit tot disfunksionaliteit. Van ’n munisipale raad wat uit ’n koalisie van meer as een party bestaan, word verwag om die gemeenskap se belange op die hart te dra en besluite te respekteer.
In die lig van deursigtigheid is dit vir die VF Plus belangrik dat die inwoners van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit van die volgende aangeleentheid kennis neem: ’n Verhoging van 3% vir kragverbruik is onlangs deur die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit geneem. Die raad het die notule goedgekeur waarin die besluit aangeteken is. Ten spyte hiervan het die munisipale bestuur voortgegaan om die tarief met 6% te verhoog.
Hierdie optrede kom daarop neer dat partye soos die VF Plus en DA blatant oor die hoof gesien is. Om besluite deur die raad geneem op hierdie wyse te minag sodat dit nie, of verkeerdelik, geïmplementeer word, is teenstrydig met die gees van ’n koalisieregering. Ek kan selfs so ver gaan as om te stel dat daar ’n vyandigheid van amptenare ten opsigte van raadsbesluite is. Dit is dus nie ’n verregaande afleiding dat magte buite die alliansie die bestuur van die twee dorpe opsetlik wil laat misluk nie.
Die VF Plus se beleid is om daadwerklik in belang van die gemeenskap op te tree en nie Gods water oor Gods akker te laat loop nie. Gevolglik word hierdie aangeleentheid onder die Provinsiale Wetgewer en die Finansiële Oorsig Komitee (EPAC) se aandag gebring. Deur die indien van ’n mosie word die besluit ook na die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit terugverwys.



