Gaan voertuigligte liefs gereeld na
Beeste, donkies en slaggate het lankal reeds my lus om snags te bestuur van my ontneem.
Ek besef egter onlangs dat my oupa Hannes se gewoonte om die motor se ligte gereeld na te gaan en te verstel, nie deur die meeste padgebruikers aangeleer is nie. In ’n land waar ons kwansuis punte op ons rybewyse gaan verloor as ons nie vir ’n beampte se middagete wil betaal nie, is dit verbasend om te sien hoeveel voertuie se ligte glad nie werk nie.
Die meerderheid van hierdie ligte wat wél werk, word egter nooit verstel nie. Die meeste nuwe motors se ligte stel sommer vanuit die kajuit, maar dit wil voorkom asof talle motorryers nie seker is hoe daardie knoppie werk nie of wat die doel daarvan is nie.
In oupa Hannes se dae was dit hoflik om seker te maak dat ’n motor se ligte nie aankomende motorryers verblind nie. Om seker te maak dat sy voertuie aan hierdie vereistes voldoen, het hy my af en toe nadergeroep om met my lyf een van die motor se ligte af te skerm terwyl die ander lig teen die motorhuisdeur geskyn het. Die lyne van die groot staaldeur is gebruik om die hoogte te bepaal en die slot het die middelpunt aangedui.
Die meeste voertuie se ligte kan redelik maklik verstel word en die enigste gereedskap wat benodig word, is gewoonlik ’n kleinerige moersleutel of skroewedraaier. Deur die motor se ligte teen ’n muur sowat 6 m ver te laat skyn, kan die ligte se hoogte en rigting goed bepaal en verstel word.
Wanneer ’n swaar vrag vervoer of ’n woonwa gesleep word, moet die ligte gewoonlik laer gestel word. Daar is verskeie nuwe motors wat outomaties die hoogte aanpas en baie is met ’n verstelknoppie in die kajuit toegerus. Motorryers word aangeraai om hulself te vergewis van die werking van hierdie stelsel en altyd aankomende verkeer in ag te neem.
• Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela.



