Burgemeester antwoord inwoners oor kwellinge
Die banketsaal in Mookgophong was op Maandag 26 Augustus volgepak toe ’n gemeenskapsvergadering met die Modimolle-Mookgophong-burgemeester, Marlene van Staden, gehou is.

Die doel van die vergadering was om inwoners se vrae te beantwoord oor die voortslepende waterprobleem waaronder die dorp gebuk gaan en ander klagtes te bespreek.
Sy is vergesel van wyksraadslid Hercules Louw en waarnemende munisipale bestuurder dr. Melusi Mhlanga. Die inwoners het agt voorafopgestelde vrae aan Van Staden gestel. Later is vrae uit die gehoor ook aangehoor en beantwoord.
Een van die vrae het gehandel oor die Sondela-pompstasie wat water vanaf Magalies Water na Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong moet pomp. Van Staden het gesê die Sondela-pompstasie en pypleidingprojek is al twee jaar in aanbou en dat die projek na verwagting einde November voltooi sal wees. Hierdie pypleiding sal water voorsien tot in Modimolle.
Die pypleiding wat Mookgophong van water moet voorsien, sal op ’n later stadium gebou word wanneer die begroting dit toelaat.
Van Staden het ook gesê ’n studie het bevind dat van die boorgate in die omgewing te naby aan mekaar gesink is en veroorsaak het dat die watertafel vinnig sak.
Die munisipaliteit probeer bykomende geld bekom om nog boorgate te sink en toe te rus, het sy gesê.
Volgens die studie is die watervoorraad in die Frikkie Geyser-dam nie voldoende vir die aanvraag nie en sal die munisipaliteit moet ondersoek instel om dié damwal te verhoog om die dam se houvermoë te verhoog.
“Ons bestuur die watertekort eerder op ’n rantsoengrondslag as wat daar geen water is nie en alle huishoudings droë krane het,” het sy op ’n vraag geantwoord.
Oor klagtes oor ’n onverwagse heffing van R73 op waterrekenings het sy verduidelik dat Modimolle se inwoners reeds sedert 2016 hierdie verpligte heffing betaal. Indien Mookgophong-inwoners se verbruikersrekenings nie hierdie heffing aangedui het nie, is daar nalatigheid van die munisipale bestuur se kant, het sy gesê.
Sy het ’n dringende beroep op inwoners gedoen om hul rekenings na te gaan en indien die heffing nie daarop verskyn nie, dit sonder versuim by die munisipaliteit aan te meld.
Sy het ook gesê dat daar tans ’n plaas in die tinmyn-omgewing is waar daar glo genoeg ondergrondse water vir ongeveer 20 jaar se gebruik is. “Die voorstel is dat die munisipaliteit gesuiwerde water by die tinmyn koop wat geskik is vir menslike gebruik en wat dan teen ’n laer tarief as dié van Magalies Water aan die dorp beskikbaar gestel kan word,” het Van Staden gesê. Dié voorstel word ondersoek.
’n Watervoorsieningskedule is opgestel om alle huishoudings vir gedeeltes van die dag van water te voorsien. Die watervoorsiening aan die sakesektor geniet eerste prioriteit gedurende die dag. Volgens die skedule is die dorp in drie dele verdeel: Gholfpark wat vanaf ongeveer 06:00 tot 11:00 water kry en daarna word die klep toegedraai en die gebiede onder Gholfpark (6de-, 7de- en 8ste Laan) tot by die Euphorbiaskool kry dan watertoevoer. Die derde deel is sektor 1 wat dan die hele nag tot 05:00 water kry.
Van Staden het ook daarop gewys dat te veel water verbruik word en dat verbruik drasties ingekort moet word. Volgens haar statistieke gebruik die gemiddelde gesin ongeveer 400 liter per dag terwyl die wêreldwye gemiddeld 148 liter per dag per gesin is.



