Philip van Staden, Mookgophong, skryf:
Ek merk in Die Pos van Vrydag 30 Augustus dat die adjunk- provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus meld dat daar ’n raadsbesluit was om die elektrisiteit met slegs 3% te verhoog.
Die munisipale bestuurder het egter kragverbruik met 6% verhoog. Daar word verwys dat die DA en VF Plus se voorstelle blatant oor die hoof gesien is en dat hul mening geminag is.
Die briefskrywer moet asseblief daarvan kennis neem dat kragtariewe deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) goedgekeur word. Munisipaliteite mag nie die kragtarief met meer verhoog as wat deur Nersa vasgestel is nie.
Alle raadslede behoort van dié reëling te weet.
Briewe soos dié saai verwarring. Inwoners moet dus daarvan kennis neem dat die tarief op kragverbruik vir die huidige boekjaar met 13,04% verhoog is. Grondbelasting is met 6% verhoog, watertariewe is met 10% verhoog, sanitasie met 10% en vullisverwydering met 10%.



