Skote klap by suksesvolle skietdag buite Roedtan
Die jaarlikse interboerevereniging-jaggeweerskietdag en –kompetisie wat deur die Roedtan en Nyl-suid- boereverenigings gereël word, het op Saterdag 31 Augustus plaasgevind.
Die dag het op Albert Pienaar van Ylboomvlakte-boerdery se “Grou en Klou”-skietbaan, net buite Roedtan, plaasgevind.
“Dit is uitstekende geriewe wat beskikbaar gestel word vir die jaarlikse kompetisie en ons is baie dankbaar dat dit weer so ’n groot sukses was,” het Floris Booysen, voorsitter van die Crecy-boerevereniging, gesê.
Dit is die vierde jaar dat die skietdag gehou word en vanjaar was daar 62 skuts wat meegeding het vir die groot pryse en ’n wisseltrofee. Die skuts het mans, vroue en juniors ingesluit.
Die inskrywingsfooi was R150 per skut en die fondse sal aangewend word vir die organisasie van nog skietdae, die Transvaalse Landbou-unie (TLU) en die opgradering en instandhouding van die infrastruktuur van die skietbaan.
“Dit was ’n baie lekker dag en ek sal beslis aanstaande jaar weer deelneem,” het Johan Potgieter, ’n inwoner van Mookgophong, gesê.
Die kompetisie het bestaan uit ses aflosse of bane waarvan vyf papierteikenbane (wat soos bokke lyk) gehad het en een baan het jagomstandighede nageboots. Skuts moes uit ’n hurkende posisie op die teikens skiet. Elke skut het 25 skote gehad wat ’n moontlike 752 punte getel het.
Die skuts moes hul eie oor- en oogbeskerming saamneem en slegs slenterslagkalibers is toegelaat.
Die topvierskuts van elke boerevereniging se punte is bymekaar getel om die wenner van die gesogte wisseltrofee te bepaal.
Dit is die eerste jaar dat die spogtrofee deur die Crecy-boerevereniging gewen is met 1 935,2 punte. Roedtan-suid was tweede met 1 835,8 punte.
Daar was ook kategorieë vir nielede en vroue. Die wenner van die vroueafdeling was Jeanne Haasbroek, Tanya Bondisio was tweede en Suné Els derde. Elwin Etsebeth was die wenner in die ope afdeling en sy broer, Eugene Etsebeth (2018 se wenner), tweede met Eduan Engelbrecht in die derde posisie.



