Mooigoed by Kersmark in Bela-Bela
Handgemaakte geskenksakkies en Kerskaartjies, ingelegde produkte, boerbeskuit, rame, kopbande en serpe, handgemaakte en silwer juwele, hout- en leerprodukte.
Dít is van die produkte wat besoekers vir hul Kerskouse by die Paljas Kersmark op Saterdag 2 November op die skoolterrein van Hoërskool Warmbad in Bela-Bela sal kan besigtig en koop.
Amanda Mostert van Meerkat Leather Designs se pragtige leerhandsakke is ook een van die uitstallers.
Mostert is ’n oud-Warrie wat ’n graad in verbruikerswetenskap (kleding) by Tuks verwerf het en ná haar studies besluit het om op leerprodukte te fokus.
Meerkat bestaan reeds sedert 2016 en deesdae word Mostert se ontwerpershandsakke vanuit ’n toegeruste werkswinkel in Lephalale vervaardig. Elke handsak is uniek en haar style verander voortdurend sodat kliënte altyd met nuwe ontwerplyne en tendense verras word.
Berna Moolman van Modimolle is nog ’n uitstaller wie se stalletjie beslis die moeite werd sal wees om te besoek. Dié oudkunsonderwyser bedryf die afgelope paar jaar haar eie raamonderneming. Sy het ’n groot verskeidenheid rame en van dié rame sal tydens Paljas uitgestal word. Daar is min Kersgeskenke wat kom by ’n mooi geraamde foto of kunswerk.
Die verskeidenheid stalletjies in die kosvierkant behoort ook besoekers se monde te laat water. Beckys Meals on Wheels sal heerlike “footlong Russian rolls” maak. Hulle is ook bekend vir hul “Snow Ice” wat ’n heerlike lafenis in die warm November sal wees.
Mack Boshoff wat op 14 panne in ’n sirkel gelyk pannekoeke bak, is nie net iets ongeloofliks om te sien nie; sy pannekoeke smaak ook vorentoe. Dan sal daar ook tradisionele kos soos pap en kaiings, vetkoeke en koeksisters wees. Die bobaaskosmaker Rhonel Pienaar se oliebolle (“doughnuts”) sal beslis ook groot aftrek geniet. Sy sal ook pragtige rokkies vir tienermeisies op uitstalling hê.
Vir die kinders is daar ’n lekkergoed- en aktiwiteitstafel.
Daar is nog plek vir uitgesoekte produkte. Die organiseerders keur alle produkte om te verhoed dat daar te veel stalletjies is wat dieselfde produk verkoop. Daar is nog nie aansoeke ontvang vir die volgende stalletjies nie: roomys en melkskommels, koffie, olyfprodukte, kaas, “craft” bier en jenewer (“gin”).
Mense wat ’n unieke produk vervaardig en graag by Paljas wil uitstal, kan vir Bea Emslie skakel by tel. 083 654 5819 of stuur ’n e-pos na dieposbea@icon.co.za(.)
Die mark word aangebied ten bate van Die Pos-kinderfonds, Stadspoort-bediening en Hoërskool Warmbad se voedselskema. Toegang na die mark is gratis, maar besoekers word versoek om ’n donasie by die ingang van die mark te gee wat tussen die drie liefdadigheidsprojekte verdeel sal word.



