MunicipalNews

Gaan polisie toe, besluit raad

Die verslag wys beskuldigende vingers na onder andere verskeie hoë amptenare en sê hulle het versuim om hul pligte na te kom om die munisipaliteit se finansiële gesondheid te verseker.

Gaan lȇ kriminele klagtes.

Dié besluit is vandeesweek deur raadslede van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit geneem nadat hulle die aanbevelings van ’n forensiese verslag deur die nasionale tesourie aanvaar het. Die tesourie het ’n ondersoek na finansiële wanadministrasie geloods ná klagtes oor dié wankelende munisipaliteit. Die bal is nou in die hande van die waarnemende munisipale bestuurder, dr. Sheppard Mhlanga, om die klagtes te gaan lȇ.

Die opspraakwekkende verslag is op Vrydag 6 September ter tafel gelȇ en die aanbevelings is ten spyte van teenkanting van EFF-raadslede op Dinsdag 10 September aanvaar.

Die verslag wys beskuldigende vingers na verskeie hoë amptenare en sȇ hulle het versuim om hul pligte na te kom om die munisipaliteit se finansiële gesondheid te verseker.

Die nasionale tesourie het Fundudzi Forensiese Dienste in Junie 2018 aangestel om die munisipaliteit se geldsake te ondersoek ná bewerings dat daar ongerymdhede is met van die diensverskaffers wat aangestel is. Luidens die verslag is daar 539 verdagte transaksies met verwysings wat slegs aandui “Electronic Funds Transfer”. Daar is ook gekyk na die geldigheid van 28 van die diensverskaffers se kontrakte. Die verslag lui dat daar groot probleme is met die munisipaliteit se rekordhouding en dat hulle maande lank vir sekere inligting moes wag.

Die verslag maak aanbevelings dat daar dissiplinȇr opgetree moet word teen twee voormalige hoof- finansiële beamptes omdat hulle versuim het om onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes te verhoed, geld wat ’n diensteverskaffer aan die munisipaliteit verskuldig is in te samel en behoorlike rekordhouding te verseker.

Die verslag beveel aan dat kriminele klagtes teen Ombali Sebola, voormalige munisipale bestuurder, aanhangig gemaak word omdat sy aanstelling van sekere diensteverskaffers neerkom op die misbruik van sy gesagsposisie. Die Pos het hom op Dinsdag 10 September om kommentaar genader, maar hy het gesê dat hy nog nie die verslag gesien het nie. Teen druktyd Woensdag 11 September
is nog geen reaksie ontvang nie.

Nog ’n aanbeveling is dat kriminele klagtes van bedrog en/of diefstal teen CigiCell, ’n maatskappy wat aangestel is om die verkope van voorafbetaalde krag te hanteer en foutiewe meters te herstel, aanhangig gemaak word. Die maatskappy het luidens die verslag 10% kommissie van verkope afgetrek in plaas van die 5,5% waarop ooreengekom is. Die maatskappy het gesê dat hulle later in die week op Die Pos se versoek om kommentaar sal reageer.

Luidens die verslag is CigiCell aanvanklik in 2015 aangestel vir voorafbetaalde elektrisiteitsverkope. Later daardie jaar is die aanstelling deur die hooggeregshof tersyde gestel en die munisipaliteit is opdrag gegee om die tenders te herevalueer. Hulle het glo egter nie daaraan gehoor gegee nie. Nadat die tussentydse hofbevel verval het, het die munisipaliteit glo geen kontrak met die maatskappy gehad nie, maar hulle het steeds hul dienste gelewer.

Die maatskappy is luidens die verslag in Desember 2017 op onreëlmatige wyse aangestel. Die verslag het bevind dat die munisipale bestuurder en die hoof- finansiële beampte nie die kontrak tussen die munisipaliteit en CigiCell na wense bestuur het nie.

Die verslag beveel ook aan dat ’n kriminele klag teen Legodi Prokureurs aanhangig gemaak moet word omdat verdagte fakture glo ingehandig is en hulle dit na bewering nie kon verduidelik toe hulle daarna uitgevra is nie. Daar is glo twee fakture, wat identies is, ingedien wat R1 317 000 beloop vir die dienste van twee advokate. In die tydperk van Junie 2017 tot Mei 2018 is Legodi Prokureurs glo R9 358 714,50 betaal vir sake waarvoor hulle aangestel is, hoewel hulle nie op die munisipaliteit se paneel van diensverskaffers was nie.

Die prokureurs is op Dinsdag 10 September via e-pos om kommentaar genader, maar teen Woensdagoggend 11 September is nog geen reaksie van hulle ontvang nie.

Indien kriminele sake aanhangig gemaak is, kan die beweerde  onreëlmatige aanstelling van verskeie diensverskaffers ondersoek word, het die verslag gelui.

Raadslid Johann Abrie het die verwikkelinge verwelkom. “Toe ek as speaker van die raad daarop aangedring het dat die munisipale bestuurder en die prokureurs ondersoek moet word vir wanbestuur en korrupsie, is ek deur die EFF uitgedwing en moes as speaker bedank om die sogenaamde koa-lisie staande te hou. Ná drie jaar se werk is die forensiese ouditverslag nou onder groot druk deur die raad aanvaar,” het hy gesê.

“Ek hoop dat die aanvaarding van hierdie verslag ’n nuwe era van verantwoordbaarheid vir die Modimolle-Mookgophong plaaslike munisipaliteit sal beteken waar elke sent wat van die belastingbetaler verhaal word op die verbetering en uitbreiding van dienslewering bestee sal word,” het Marlene van Staden, die burgemeester, gesȇ.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button