’n Bejaarde egpaar van Mookgophong, Hennie (89) en Anne (88) Hefer, maak snags nie ’n oog toe nie nadat hulle sedert Julie vanjaar al vyf keer deur boewe geterroriseer is.
Die egpaar woon die afgelope 31 jaar in dieselfde huis in die dorp.
“Daar is al voorheen by ons ingebreek, maar sedert Julie vanjaar is daar nou al vyf keer weer by ons ingebreek. Die laaste keer was in die vroeë oggendure van Vrydag 6 September toe hulle my skoene, selfone, televisie en DVD-speler gesteel het,” het Hennie aan Die Pos gesê.
Die inbrekers het die agterdeur se hek afgeruk en toe die deur oopgeskop. Hulle het al die elektriese toerusting en gereedskap uit die motorhuis gebuit. Gelukkig kon Anne iemand van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in die hande kry. Kobus van Loggerenberg van die GPF het hulle te hulp gesnel, maar die drie boewe het op die vlug geslaan en kon nie aangekeer word nie.
“My goed is altyd so netjies, maar hulle het alles verwoes en uitgegooi om te vat wat hulle wou hê,” het ’n hartseer Hennie vertel. Volgens hom het hulle vanjaar op 13 Julie, 19 Julie, 23 Julie, 26 Julie en 6 September onder inbrekers deurgeloop.
“Ons is baie bang. Ons gaan deur ’n moeilike tyd. Ons wil na ons kinders in Vanderbijlpark toe gaan,” het Anne gesê.
Past. Johan Gertzen van die AGS-kerk in Mookgophong het intussen gereël dat die getraumatiseerde Hefers vir twee aande in die Naboom Tuiste vir Bejaardes kan oornag.
Die kerk het ook ’n veiligheidswag gehuur om vir ’n tydperk na die egpaar se huis om te sien. Van Loggerenberg het gereël dat daar saans patrollies voor die egpaar se huis gery word.
Philip van Staden van AfriForum het ook bystand aan die egpaar gebied en die gemeenskap se hulp gevra om die bejaardes in die dorp te help beskerm teen lafhartige boewe.



