
Die #ImStaying sosiale mediagroep het Suid-Afrikaners die afgelope drie weke behoorlik laat regop sit.
Nie vanweë onthullings oor korrupsie en skandale nie (daarvan het die land reeds ’n oordosis), maar juis vanweë die wonderlike verhale en redes waarom ’n groot deel van Suid-Afrikaners besluit het dat dié land steeds die beste ter wêreld is.

Die groep, wat op 7 September begin is, se getalle groei daagliks. Teen druktyd het die volgelinge op 375 000 gestaan. Dit is 375 000 stemme vir verandering en hoop. Dit is 375 000 mense wat verklaar dat hulle deel van die land is en dat hulle hier aan die suidpunt van Afrika gaan bly.
Indien dié groep ’n politieke party was, sou hulle nommer ses in die parlement bekleë het. Indien hulle ’n stad sou verteenwoordig, sou dit net kleiner as Port Elizabeth gewees het.
Hulle is prositief en vertel hul stories op die groep. Alledaagse stories. Stories oor hoe wonderlik Suid-Afrikaners werklik is.
Soos die storie van Ntsiki Jamakazi Dlepu wat een aand baie laat ’n bus vanaf Makhanda (Grahamstad) in die Oos-Kaap na Kaapstad moes haal. Die bus was laat en die plaaslike restaurant langs die bushalte, waarin sy gewag het, het later toegemaak. Sy was vreesbevange om alleen by die bushalte te wag. ’n Vrou het ’n entjie van die bushalte saam met haar dogter op ’n ander bus gewag.
Dlepu vertel hoe Carol Leff haar genooi het om eerder saam in hul motor te wag. Die dogter se bus het wel betyds opgedaag en sy onthou hoe angstig sy was dat sy uiteindelik tog alleen gelaat sal word. Maar Leff het saam met haar bly wag en toe Dlepu later ’n boodskap op haar foon van die busdiens ontvang dat die bus eers die volgende oggend sou opdaag, het Leff haar dié nag van ’n warm bed en ’n heerlike bord kos voorsien. Dit, skryf Dlepu, is waarom sy bly.
Soos die storie van die apteker Arnold Muller wat in ’n regeringshospitaal werk. Nie omdat hy nie ’n ander keuse het nie, maar omdat hy wil. Omdat dit vir hom ’n vreugde is om daagliks Suid-Afrikaners uit alle vlakke van die samelewing te dien. Sommiges is brandarm, sommiges is boemelaars en die meeste is baie siek, skryf Muller. Maar hy maak ’n verskil en dit is waarom hy bly.
Soos die stories van duisende ander volgelinge op die groep.
Landsburgers wie se geloof in die woorde van Margaret Mead, Amerikaanse antropoloog en bekende spreker vir menseregte tussen 1960 en 1970, opgesom kan word: “Never doubt that a small group of thoughtful, committed citizens can change the world; indeed, it’s the only thing that ever has.”


