Plaaslike kampioenruiters en perde vaar goed in Parys
Jong perderuiters het hul vernuf getoon tydens die Western Mounted Games (SAWMGA) se nasionale kampioenskap wat van 21-23 September in Parys gehou is.
Daar het sowat 420 perde en hul ruiters van regoor Suid-Afrika aan dié gewilde kompetisie deelgeneem. Dit is die vinnigste groeiende perdedissipline in Suid-Afrika.

Deelnemers kan in twee afdelings deelneem. Jonger kinders neem deel aan die afdeling vir ruiterkuns-skolevereniging (Sanesa). Daar is ook ’n ope-afdeling waaraan ruiters van alle ouderdomme kan deelneem. Dit beteken dat ’n 10-jarige teen ’n 18-jarige of selfs 40-jarige kan deelneem.
Keegan Visser, ’n tuisonderrigstudent van Bela-Bela, het aan die Sanesa hoërskole-afdeling vlak 2 deelgeneem en ’n eerste plek gekry. Die vlak 2 skolespan was algeheel eerste. In die SAWMGA-ope het hy opgeskuif vanaf vlak 2 na vlak 3 en algeheel tiende geëindig.

Ané Pretorius van die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong het aan die Sanesa laerskole-afdeling vlak 1 deelgeneem waar sy algeheel vierde geëindig het. Die Sanesa vlak 1-span was algeheel tweede. Sy het in die SAWMGA-opespan algeheel 13de geëindig.
Nelene Mostert van Hoërskool Warmbad het haar provinsie in Sanesa vlak 1 verteenwoordig. Die span het algeheel vierde geëindig.



