Die Pos-koerant vier sy 37ste verjaardag
Die koerant is op 8 Oktober 1982 deur Eugene en Nicola Diener gestig.
Die Pos het vandeesweek op Dinsdag 8 Oktober 37 kersies op ons verjaarsdagkoek doodgeblaas.
Enigiemand wat ’n onderneming op die platteland bedryf, sal weet dat dit, veral in vandag se mededingende tye, ’n reuseprestasie is. ’n Groot lekkerte vir die eienaars van Die Pos is boonop die feit dat daar só ’n groot groep personeellede is wat al so lank as 10, 15 en selfs 20 jaar by Die Pos werk.
Toe Die Pos sy deure in 1982 geopen het, was daar nie geld om ’n buitekantoor op die destydse Nylstroom te begin nie. Eben en Tienie Erasmus van Ster Radio op die dorp het destyds aangebied om te help en die koerant van die eerste uitgawe af op dié dorp versprei. Lesers kon ook hul advertensies daar inhandig.
Deesdae het Die Pos kantore in Bela-Bela en Modimolle en verteenwoordigers in Vaalwater en Mookgophong. Ons het ook ’n suster bygekry, naamlik The Beat, wat ’n kantoor in Bela-Bela het.
Die koerant is op 8 Oktober 1982 deur Eugene en Nicola Diener gestig. In Februarie 1991 is Die Pos aan wyle Danie en Isabel Stolz verkoop.
Die koerant is in 2001 aan sy huidige eienaars, Keina Swart en Bea Emslie, verkoop en die eerste koerant onder hulle leiding het op 4 Mei 2001 die lig gesien.
Albei van hulle was toe reeds jare lank redaksielede van Die Pos onder die koe-rant se vorige eienaar.
Onder dié twee vroue se leiding het die koerant gegroei tot een van die suksesvolste ondernemings in die Bosveld wat reeds talle kere op nasionale vlak vereer is.
Die koerant het vanaf 2001 weekliks gegroei van ’n 16-blad na soms ver meer as 50 bladsye. Die drukoplaag het ook vergroot vanaf 3 500 na 6 000 en die afgelope paar jaar begin Die Pos ook sy voetspoor in die aanlynmediabedryf trap.
Sowat twee jaar gelede het Die Pos ’n stap vorentoe geneem en werklik saam met die groot honde begin blaf toe hulle die Caxton-mediagroep as aandeelhouer verwelkom het.
Die dokumente is in April 2017 in Johannesburg onderteken, ’n nuwe maatskappy is gestig en Die Pos en The Beat behoort sedertdien aan Swart, Emslie en die Caxton-groep.
Klink saam met dié uitgawe ’n glasie op daardie dag in Oktober 1982 toe Die Pos gebore is — die klein koerantjie met die gróót hart.
Baie dankie aan al ons lesers en adverteerders wat oor dié tyd vir ons soos huisvriende geword het en elke Vrydag saam met ons daar was vir al die vreugde, al die trane, al die drama …



