Die polisie in Mookgophong het op Donderdag 26 September ’n “imbizo” (vergadering) gehou waartydens ’n misdaadvoorkomingsprogram met die inwoners van Mookgophong bespreek is.
Die vergadering is in die gemeenskapsaal in Sektor 1 gehou.
Brig. Anneline Steyn, groepsbevelvoerder van die Waterberg, het tydens die vergadering gesê Mookgophong se misdaadsyfers het die hoogte ingeskiet. Sy het gesê misdaadvoorkoming is nie net die polisie se verantwoordelikheid nie, maar ouers en gemeenskappe moet ook verantwoordelikheid neem. “Ons moet saamstaan om kinders te dissiplineer en nie net die blaam vir hoë misdaad voor die polisie se deur lê nie,” het Steyn gesê.
Kol. Mabe Kekana het op sy beurt kerke en skole gevra om hande met die polisie te neem in ’n poging om misdaad te bekamp.
Philip van Staden van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum het tydens die vergadering gesê ons woon in ’n land met van die ergste misdaad teen vroue en kinders.
“Die aanranding van vroue en kinders bly toeneem en ons as gemeenskap kan dit daadwerklik keer deur nie stil te bly nie, maar voorvalle aan te meld, want misdadigers hoort agter tralies,” het hy gesê.
Marlene van Staden, burgemeester, en verskeie pastore uit die gemeenskap, het ook boodskappe gebring.
Ander sprekers was Mokone du Preez, voorsitter van die Naboom-sakekamer, die Ledet-ondersteuningsgroep vir slagoffers, Alba Nel van die Departement van Justisie in Mookgophong, verteenwoordigers van maatskaplike dienste, asook enkele raadslede.
Die suksesvolle program is gereël en saamgestel deur ’n imbizokomitee onder leiding van AO George Ledwaba van die polisie in Mookgophong.
Lede uit die gemeenskap het tydens vraetyd gesê hulle is moeg daarvoor om te hoor dat daar sekere polisielede is wat saam met dwelmhandelaars werk en self korrup is.



