Local newsNews

‘Hugo, bel die polisie’

Die Bela-Bela-polisie ondersoek ’n saak van roekelose en/of nalatige bestuur nadat ’n motorryer in ’n wit Toyota Fortuner op Saterdag 5 Oktober die steunpilaarstrukture voor die SuperSpar-kompleks in die dorp aan flarde gery het.

Die Pos is in besit van ’n video-opname van die voorval.

In die beeldmateriaal word gesien hoe die Fortuner in die parkeerterrein talm en dan stadig in die rigting van die Tops-drankwinkel begin ry. Die volgende oomblik word een van die versperrings voor die ingang na die sentrum stukkend gery.

Die motorryer draai dan die stuurwiel skerp na regs en versnel, waarna dit twee stoeppilare omry. Die voertuig tref ’n vlagpaal en ’n ander geparkeerde voertuig voordat dit tot stilstand kom. Die ander voertuig is ook beskadig.

Die video wys hoe die gebou se afdak ingee nadat die pilare omgestamp is.

Verskeie mense het aan Die Pos gesê die bestuurder van dié voertuig was ’n vrou, maar teen druktyd wou die polisie dit nie bevestig of ontken nie.

’n Aantal passasiers het een na die ander uit die beskadigde Fortuner se vensters geklim terwyl omstanders verbaas nadergestaan het.

Volgens die polisie het die voorval teen ongeveer 18:30 plaasgevind.

Die bestuurder is glo na die Warmbad-hospitaal vir behandeling geneem, maar teen druktyd is niemand aangekla nie. ’n Digte mantel van geheimhouding is intussen oor dié saak getrek en Die Pos kon ná verskeie pogings geen verdere inligting oor die voorval uit die polisie kry nie.

Eddie Alberts, eienaar van die gebou, het in reaksie aan Die Pos gesê die gedeelte waar die gebou beskadig is, is intussen onveilig vir voetgangers verklaar en wagte sal toesien dat niemand daar rondbeweeg nie. Daar sal tydelike stutpale aangebring word.

Die Tops-drankwinkel is oop vir sake.

Baie van die rommel is intussen opgeruim en samesprekings word gevoer om die gebouversekering uit te klaar, het Alberts gesê.

** (‘Hugo, bel die polisie!’ het die afgelope maand as’t ware ’n volkseie frase in Suid-Afrika geword ná die verspreiding van ’n video op sosiale media van ’n staatgeveg in Pretoria-Noord, waartydens iemand wat die gebeure afneem telkens aan ’n ene Hugo skree om tog net die polisie te bel.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button