EntertainmentLifestyle

Kersmark in Bela-Bela gaan iets vir almal hê

Kersfees is om die draai en dit is nooit te vroeg om met Kersaankope te begin nie.

Die Paljas Kersmark is die ideale plek om nie net Kersgeskenke nie, maar ook eetgoed vir Kersfees te koop. Daar sal boonop heerlike kosstalletjies wees en ’n onderdakkuierplek om saam met vriende te kuier.

Met meer as 40 uitstallers wat reeds hul plekke bespreek het, behoort daar iets by Paljas vir oud en jonk te wees.

Die mark vind op Saterdag 2 November op die skoolterrein van Hoërskool Warmbad plaas. Geen toegangsfooie word gevra nie, maar besoekers kan ’n donasie gee ten bate van Die Pos-kinderfonds, Stadspoort en Hoërskool Warmbad se voedselprojek.

Daar sal ’n groot verskeidenheid kinderstalletjies wees waaronder handgemaakte speelgoed, kinderklere, haarbande, kunsprodukte, asook ’n aktiwiteitstafel en gesigverf. En natuurlik heerlike eetgoed waaronder ’n lekkergoedtafel, melkysies en roomyse. En vir die Kersvakansie by die see is daar Swim Dry-handdoeke wat vinnig droog word en ma’s sommer baie moeite kan spaar.

Vir die Kersspens is daar Kerskoekies en –vrugtekoeke, beskuit, varsgebakte brood, handgemaakte sjokolade en lekkers, ingelegde produkte, droëvrugte en neute, biltong en die heerlikste hoenderprodukte en -snitte van Savannah Hoenders — heerlik vir ’n Kersbraai.

Vir die vroue is daar leerhandsakke, juwele, vroueklere, kunsprodukte, dekoritems van Custom Wood Creations, haarprodukte, skoonmaakprodukte, gevlegde macramé, hobbelperdjies, meubels wat kunstig gerestoureer is, geskenkpakkies en kaartjies vir Kersfees, Kersversierings, tafeldoeke en -versierings, strooikussings en nog vele meer. Daar sal ook heelwat stalletjies wees sodat pa en oupa darem ook iets in die Kerskous kan ontvang, soos leergordels en -beursies, messe en selfs gereedskap.

Paljas beloof ook om ’n kuiermark soos min te wees; daarom sal daar heerlike kosstalletjies wees met pannekoek, ‘chip n dip’, “footlong”-worsbroodjies, soetsuurrafelvarkies, vetkoeke, varsgebakte pasteie, sosaties, pap en kaiings, ’n koffiestalletjie en heerlike soetgoed daarby.

Die wêreldrugbybekerfinaal vind ook op dié dag plaas en die wedstryd sal om 12:00 op ’n grootskerm in die skoolsaal uitgesaai word. Daar sal beslis ’n lafenis vir die keel vir die dorstige manne te koop wees.

Besprekings vir stalletjies het reeds gesluit, maar vir meer inligting stuur ’n e-pos aan dieposbea@icon.co.za(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button