Die Bela-Bela-polisie, in samewerking met die Heritage Protection Group (HPG), was op Woensdag 9 Oktober vinnig op die spoor van die verdagtes nadat Peet Pretorius, eienaar van Peet se Padstal op die Thabazimbi-pad buite Bela-Bela, beroof is.
Die voorval het ongeveer 10:50 by Pretorius se woning agter die padstal afgespeel.

Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, is Pretorius onkant gevang toe ’n verdagte op hom in die huis afgekom het. Die verdagte het glo ’n skerp wapen (die aard daarvan is nog onduidelik) in die hand gehad.
“Die verdagte het Pretorius beveel om plat te lê, maar Pretorius het na sy wapenkluis gehardloop om ’n vuurwapen te kry. Toe hy omdraai, was die verdagte reeds op hom en die twee het in ’n stoeiery betrokke geraak,” het Maponya gesê.

Die verdagte het glo die vuurwapen by Pretorius afgeneem en uit die kamer gevlug. Volgens die polisie het die verdagte ’n skoot afgevuur toe Pretorius hom wou agternasit.
Pretorius is nie getref nie.
Pretorius het vir veiligheid in ’n ander vertrek gaan skuil terwyl die verdagte terug na die kluis is en ’n ander vuurwapen gesteel het. Die verdagte het toe in die omliggende veld in gevlug, het Maponya gesê.
Hettie, Pretorius se vrou, het kort ná die voorval gesê haar man het sy hand in dié stoeiery beseer. “Hierdie is ’n mens se grootste nagmerrie,” het ’n geskokte Hettie gesê.
Die polisie en lede van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) was vinnig op die toneel.
Twee werknemers van die Pretoriusse, ’n tuinier en huiswerker, is dieselfde dag aangekeer en na die polisiestasie gebring vir ondervraging.
’n Derde verdagte is op Donderdag 10 Oktober in hegtenis geneem. Tot groot verligting van die Pretorius-egpaar is albei gesteelde vuurwapens teruggevind.
Die drie verdagtes, die tuinier Noah Murimo (36), die huiswerker Eunice Chiruvani (40) en nog ’n man, Daniel Manyimo (30), het op Vrydag 11 Oktober vlugtig in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.
Hulle is van huisroof en die besit van gesteelde eiendom aangekla.
Maponya het gesê ’n verdere klag kan teen hulle gelê word omdat hulle vermoedelik onwettige immigrante van Zimbabwe is.
Volgens die polisie is Peet reeds ’n boete opgelê omdat hy werkers sonder geldige werkspermitte in diens geneem het.
Die verdagtes verskyn weer op Donderdag 17 Oktober in die hof waartydens hulle ’n borgtogaansoek gaan bring.
Hulle bly in aanhouding.



