Hoe nou gemaak met ’n pap wiel?
Die meeste Bosveldmanne is hopelik vertroud met die gebruik van ’n domkrag en sal sommer gou diegene kan bystaan wat dalk langs die pad ’n wiel moet ruil.
Diegene wat nie hulp langs die pad kry nie, moet egter die volgende ingedagte hou wanneer ’n motor opgelig moet word om ’n wiel te ruil: Dit is belangrik om te weet waar ’n motor se domkrag en spaarwiel gebêre word.
Sommige motors se domkragte is só versteek dat dit haas onmoontlik is om dit op te spoor, veral tydens die verwarring en ongemak wat ervaar word wanneer ’n voertuig langs die pad gaan staan. Hou klein kinders ook weg van die domkrag.
Maak eerstens seker dat die motor wat gelig word nie in die pad van ander verkeer staan nie en dat die oppervlak gelyk is. Kyk ook dat die voertuig gelyk en stewig gehys kan word.
Die handrem moet opgetrek en die motor in eerste rat wees. Outomatiese voertuie se rathefboom moet in die “P” posisie wees.
Bakkies en motors met ’n soliede leerraam kan op enige deel van die raam opgelig word, maar die meeste motors het deesdae kepies naby die wiele waarteen die domkrag gedruk moet word. Hierdie kepies word dikwels met ’n pyltjie aangedui.
Die skêrtipe domkrag wat saam met motors voorsien word, is uitsluitlik vir noodgebruik en wanneer daar tuis op gereelde grondslag onder ’n voertuig ingeskuif word, is die belegging in ’n stewige trollietipe domkrag die moeite werd.
Onthou om altyd eers die wielmoere effens los te maak voordat die motor opgelig word en laat die motor eers sak voordat die moere weer behoorlik vasgedraai word.



