Drie gewapende mans het glo op Dinsdag 5 November die twee veiligheidswagte wat op diens was by Lekkerbreek Primary oorrompel nadat ’n skoot afgevuur is. Die twee wagte, ’n man en vrou, is eers met skoenveters vasgebind, maar die vrou is later losgemaak sodat sy die skool se sleutels vir hulle kon gee.
“Terwyl een van die rowers die gang dopgehou het, het die ander ’n slot by die laboratorium oopgebreek, maar niks is uit die klaskamer gevat nie. Die mans is toe na die administrasiekantore waar hulle die kluis oopgesny het.
Hulle het agt skootrekenaars, die moederbord in die hoof se kantoor en ’n klanksisteem gebuit,” het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, gesê.
Die twee wagte is die volgende oggend om 07:00 gevind, waarna alarm gemaak is. Die rowers is steeds op vrye voet.
- Die skool het ook die naweek van 25-27 Oktober deurgeloop. Die personeel het die Maandagoggend ontdek dat die sinkdak by die kombuisarea oopgesny is. Blikkieskos ter waarde van R600 is gesteel, het Findlay gesê.



