Waterprobleme vir eers iets van verlede
Goeie reën het die afgelope paar weke geval en boere in die omgewing is ywerig besig om sonneblom en sorghum in die grond te kry. In die dorp is die tuine weer grasgroen.
Terwyl die reën die afgelope paar weke mildelik oor die dorpsgebied van Modimolle geval het, het baie inwoners gewonder of dit ook in Donkerpoortdam se opvangsgebied so lekker reën.
Thabang Selemela, die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se afdelingshoof van waterdienste, sê dat Donkerpoortdam se vlak tans op sowat 60% lê. “Dit is nou as ons nie die onbruikbare 11% wat op die bodem lê, inreken nie,” het hy gesê. Hoewel nog reën baie welkom is, ervaar Modimolle nie tans waterpr obleme nie danksy die pompstasie by Sondela, wat fluks werk. Die pompstasie, wat in November verlede jaar in werking getree het, het sowat R88 miljoen gekos. Die doel is om watertoevoer na die Bela-Bela- en Modimolle-Mookgophong-munisipaliteite vanaf die Klipdrift-dam buite Pretoria te verbeter.
“Sedertdien kon Magalies Water hul volle kwota water van 162 megaliters aan die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit verskaf,” het Selemela gesê. “Dit help omdat ons nie nodig het om groot hoeveelhede water uit Donkerpoortdam te tap nie.”
Volgens hom is die aanvraag na water tans baie hoog in die dorp en verskaf die munisipaliteit 11 megaliter per dag.
Die watersituasie in Mookgophong is egter taaier met die Welgevondendam se invloei wat baie stadig is. “Die dam is ook vlak — slegs nege meter diep. Die hoë aanvraag na water in die dorp laat ons meer water uit die dam gebruik,” het hy gesê.



