MunicipalNews

Inwoners kla oor riool in woongebied

Dit blyk of die aantal klagtes wat inwoners in Bela-Bela aan dié dorp se munisipaliteit oor dienslewering rig, net meer word en op dowe ore val.

Foutiewe straatligte laat die dorp saans in die donker. Die wateronderbrekings weens gebarste waterpype is vir inwoners ’n nagmerrie. Rioolprobleme is ook in dié dorp aan die orde van die dag.
Die nuutste klagte wat ’n inwoner onder die aandag van Die Pos gebring het, hou verband met rioolprobleme wat op die hoek van Flamboyantstraat en die grens na Bospoort-hoewes ondervind word.

Die inwoner sê dat die aanhoudende stank en die riool wat weekliks in die straat afvloei, onaanvaarbaar is en ’n gesondheidsrisiko inhou.

Die Pos het vroeër berig dat hoewel die rioolaanleg ’n paar jaar gelede opgradeer is, word daar steeds probleme ondervind met die pompe en dreineringstelsels van dié aanleg.

Die inwoner het ook vertel dat ’n munisipale werker, nadat die probleem in Flamboyantstraat verskeie kere gerapporteer is, opgedaag het en ’n mobiele pomp in die dreineringskanaal geplaas het.

Daarna is die rou riool in die straat uitgepomp en blykbaar het die werker gedink die probleem is opgelos. Geen herstelwerk of instandhouding is gedoen nie. Die inwoner het foto’s geneem terwyl die riool in die straat uitgepomp word.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê dat Jeremiah Ngobeni (burgemeester), Sello Makhubela (munisipale bestuurder), asook Melvin Marutha (hoof finansiële beampte) op Maandag 13 Januarie deur die dorp beweeg het om inspeksie te doen. Die doel was om die probleemareas te identifiseer en planne in werking te stel om die krag-, water- en rioolprobleme op te los.

“Streng gesproke sal elke probleem aandag geniet ná afloop van die inspeksie. Die munisipaliteit is ook in die proses om sy aanvullende munisipale begroting saam te stel,” het hy gesê.

“Probleme soos die straatligte wat herstel moet word, het dalk nie binne die verwagte tyd gebeur nie, maar die munisipaliteit belowe dat die dorp in die nabye toekoms weer goed belig sal wees.
Die plan is om ná afloop van die inspeksie eers op plekke in die dorp se sentrale sakesektor te fokus en daarna aandag te gee aan die res van die dorp,” het Mosito belowe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button