Sakelui kan nou by sakekamer aansluit
Die Bela-Bela-sakekamer gaan ondanks verskeie pogings nie gou weer herleef nie en daarom word sakelui van dié dorp nou genooi om in te skakel by die breër sakegemeenskap van die Waterberg-sakekamer.
Mark Rainier, voormalige sekretaris van die Bela-Bela-sakekamer, het aan Die Pos gesê die doel van die sakekamer was om sakelui te betrek by die bestuur van die dorp en om inspraak te hê by besluite op regeringsvlak. Die Bela-Bela-sakekamer was by die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) geaffilieer, wat lede op alle vlakke van sakebestuur ondersteun.
“Talle sakemense wou deel word van die sakekamer, maar het weens die wankelrige bestuur nie die vertroue gehad om aan te sluit nie en die sakekamer het later ontbind,” het Rainier gesê.
“Ons het verlede jaar tydens ’n vergadering probeer om die belangstelling weer te laat opvlam, maar die terugvoering was min. Dit is toe dat ons met die Waterberg-sakekamer in gesprek getree het, wat hul deure vir ons oopgemaak het.”
Plaaslike sakeondernemings kan nou deel word van dié makro-ekonomie en met ander sakelui in die Waterberg-gebied skakel, het Rainier gesê.
Die Waterberg-sakekamer is in die 1970’s gestig en groei steeds, wat vertroue in dié forum se geloofwaardigheid skep. Wiets Botes is die huidige voorsitter.
Estelle Mans, sekretaresse van die sakekamer, het in reaksie aan Die Pos gesê hulle is ’n niepolitiese en nie-rassige organisasie. “Ons oogmerk is om ’n optimale vryemarkstelsel binne ’n oorwegend kapitalistiese bestel te bewerkstellig, te onderhou en te bevorder. Ons wil ondernemerskap en die belange van ons lede as sakelui beskerm en bevorder en as ’n spreekbuis vir ons lede optree.”
Vir navrae kan mense ’n e-pos stuur na info@waterbergsake.co.za of die sakekamer se kantoor skakel by tel. (014) 007 0572. Ledebyeenkomste vind elke tweede Donderdag plaas, al is bywoning nie verpligtend nie. Die jaarlikse algemene vergadering sal na verwagting op Donderdag 12 Maart plaasvind.
Vir meer inligting kan mense hul webtuiste besoek by www.waterbergsake.co.za(.)
Die sakekamer is geaffilieer by die Kleiner Ondernemingsinstituut (SBI), asook Sakeliga.



