’n Verbyganger het die nooddienste in die vroeë oggendure van Woensdag 22 Januarie van die brandende voertuig langs die N1-snelweg tussen Bela-Bela en Modimolle laat weet.
Nadat die vlamme geblus is, is die onherkenbaar verbrande liggaam van ’n mens gevind. Die raaisel het verder verdiep toe ’n haelgeweer in die gras op die middelman ontdek is.

“Ons het nog geen duidelike antwoorde nie en met DNS-toetse sal ons meer inligting oor die identiteit van die persoon kan verskaf. Dit wil voorkom asof die motor, wat vanaf Pretoria in ’n noordelike rigting na Polokwane gery het, oor die middelman en aankomende verkeer se baan gery het voordat dit ’n boom langs die snelweg getref het. Of die insittende met die haelgeweer geskiet is voordat die voertuig aan die brand gesteek is, en of dit bloot toevallig in die gras gelê het, sal gedurende die ondersoek bepaal word,” het A.O. James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie gesê.
Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word.
Die polisie vra dat enigiemand wat inligting oor die voorval het, dringend vir kapt. Hendrick Nienaber op tel. 082 565 8606 skakel of dit by die naaste polisiestasie aanmeld.



