Ry gerus ’n bietjie in die dorp en let op hoeveel Great Wall Motors (GWM’s) en Mahindra-bakkies deesdae diens doen.
Met die goedkoopste Hilux-dubbelkajuit wat al meer as R400 000 kos, raak dit vir die gewone man op straat ’n uitdaging om ’n nuwe dubbelkajuit uit die gewilde en betroubare vervaardigerspoel te oorweeg.
Tog is die veeldoelige en praktiese natuur van ’n dubbelkajuit onweerstaanbaar vir ons sake- en gesinsmanne wat daagliks op paaie ry wat nie meer vir sedanmotors geskik is nie. Boonop kan ’n dubbelkajuit oor die naweek ingespan word vir enige avontuur of gesinsuitstappie.
Maar wat is die keuses aan die goedkoper kant van die mark?
Toe die Chinese en Indiese bakkies meer as tien jaar gelede hier aan wal gekom het, het hulle aanvanklik goed verkoop danksy lae pryse en beloftes van Toyota-enjins. Die meeste van daardie eerste Chinese voertuie is egter lankal reeds net ’n hopie geroeste skrootmetaal.
GWM is die een Chinese vervaardiger wat wel hul merk in die mark gemaak het en het oor die afgelope tien jaar geleidelik sy aanbieding uitgebrei en verbeter. GWM in Suid Afrika is deesdae ’n volwaardige filiaal van die moedermaatskappy en nie net ’n agent nie.
GWM wil hiermee sy verbintenis aan ons mark bevestig en hoop om gemoedsrus by kopers te verskerp wat hul langtermyn teenwoordigheid in die land betref. Hulle Haval-handelsmerk is tans baie gewild.
Die goedkoopste Steed 5-model kos maar R185 000, ’n 4×4-diesel is R275 000 en vir R320 000 kan die vlagskip Steed 6 in die motorhuis spog. Natuurlik is hierdie nie Toyota-bakkies nie, maar hulle kan alles doen wat die gemiddelde koper van hulle verwag. Die 2.0 l-diesel klink na ’n redelik betroubare opsie en is ongetwyfeld die beste keuse uit die GWM-stal.
Indië se Mahindra is ook ’n vervaardiger wat met geharde produkte geduldig sy plekkie in ons bakkielandskap uitgebeitel het. As werkesels is Mahindra se bakkies moeilik om te klop en die PikUp-reeks se dubbelkajuite bied ’n ruim, stewige alternatief teen mededingende pryse aan. Daar was al probleme met veral Mahindra se ratkaste, maar indien die nuwe ses-gang ratkas hierdie probleme uitgestryk het, behoort ’n PikUp ’n baie goeie kopie te wees.
Die bakkies is gewild, gemaklik, eenvoudig en het baie spasie in die laaibak. Die 2.2 l-enjin is ’n wenner wat goeie verbruik en lae wringkrag in ’n betroubare enjin kombineer. Mahindra se dubbelkajuitbakkies begin by R300 000, maar hulle voel ’n bietjie beter afgewerk as die Chinese eweknie.
JMC se Vigus met sy Cummins-enjin verkoop nie so goed nie, maar is met ’n prys van R280 000 ’n toetsrit werd. Die nuwe JAC T6- en T8-bakkies is ’n poging om luukser, groter en gemakliker bakkies, wat met die bekende, bestaande bakkies moet meeding, te vervaardig. Op die oog af lyk JAC se bakkies mooi en redelik goed afgewerk. Hulle is net so groot soos ’n Hilux en het 1.9 l-dieselenjin wat in Duitsland ontwerp is. JAC verkoop sy T6-intreemodelle teen R280 000.
Dit is duidelik dat daar verskeie opsies is vir kopers wat na ’n nuwe dubbelkajuit in die R300 000-prysklas wil kyk. Onthou egter om uit te kyk vir winskopies soos spesiale aanbiedings, demonstrasiemodelle of modelle wat aan die einde van hul produksiereeks kom.



