Die voorval het na verneem word tussen 09:00 en 11:00 plaasgevind.
Padblokkades is ná die rooftog opgerig, terwyl buurtwag-, gemeenskappolisiëringsforumlede (GPF) en veiligheidsondernemings die paaie gemoniteer het. Daar is vermoed dat die rowers in ’n wit BMW van die toneel gevlug het.
Volgens inligting van die polisie het die rowers op ’n manier elke padblokkade van Lephalale, Vaalwater en Modimolle tot in Bela-Bela vrygespring.
Volgens Rudi Janse van Vuuren van Makanyane Anti-Poaching-eenheid het verkeersbeamptes deur die loop van die oggend ’n Quantum-minibus op die R101-pad tussen Bela-Bela en Radium van die pad getrek. Die beamptes het nie vermoed dat die groep mans in die voertuig by die rooftog betrokke was nie en het slegs ’n roetine-ondersoek uitgevoer. Die ondersoekspanne was toe egter reeds warm op hul spoor.

Voordat die minibus kon wegtrek, was van die lede egter op die toneel en is die verdagtes met die gesteelde items, asook twee vuurwapens, betrap en in hegtenis geneem. Die ondersoekspanne sê dat hul steeds kopkrap oor hoe die verdagtes die gereg 300 km lank kon ontduik.
Volgens die polisie was die verdagtes op pad na Thembisa (Gauteng) met die buit. Die waarde van die gesteelde items word op ongeveer R100 000 geraam.
Die polisie het ook verskillende nommerplate in die voertuig ontdek wat die rowers glo gebruik het in ’n poging om die polisie te fnuik.
Die verdagtes sou teen druktyd op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, asook die besit van gesteelde eiendom in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.
Die verdagtes sal volgens die polisie na verwagting eers in Lephalale aangekla word vir gewapende roof.
Die polisie bedank veral die onderskeie dorpe se polisielede, Makanyane, Tracker SA, lede van die Wezindlela Group, die GPF, en elke lid van die publiek wat gehelp het om die woord te versprei.



