Nylstroom-span kraai koning oor Valies
Die Vaalwater- en Nylstroomkrieketspanne se onlangse kragmeting was ’n naelbyter.
Die spanne het kragte gemeet in die Waterberg-krieketreeks se 50 boulbeurt-liga waaraan vier klubs deelneem.
Tydens die twee spanne se vorige wedstryd het Vaalwater koning gekraai.
Die afgelope naweek het Nylstroom egter die bordjies verhang met ’n goeie oorwinning.
Nylstroom het eerste gekolf en 203 lopies op die telbord gehad. Janus Neethling het ’n stewige bydrae gelewer deur 45 lopies van 25 balle te slaan.
Volgens Jan-Hendrik Jacobs, een van Nylstroom se spanlede, het die geboulde balle baie in die lug beweeg en was die kolfwerk vir albei spanne uitdagend.
“Die boulers het redelik amok gemaak. Oor Adriaan van der Walt se vyf paaltjies in vyf boulbeurte sal daar nog lank in krieketkringe gesels word, ” het Jacobs gesê.
Vaalwater het tydens hul beurt goed terug geveg met ’n goeie bydrae deur Drian Laas wat 60 lopies van 70 balle geslaan het.
“Dit was ’n baie lekker dag en krieket was die uiteindelike wenner,” het Jacobs gesê. “Die kompetisie is egter nog mededingend met enige span wat die reeks kan wen.”
Belangstellendes wat wil deel word van die Nylstroom-krieketspan kan vir Carel Hooneberg bel by tel. 083 659 7490.



