Vryheidsfront Plus wil weer ’n kandidaat in Bela-Bela stel
Die Vryheidsfront Plus (VF-Plus) het op Dinsdag 11 Februarie tydens ’n besoek aan Bela-Bela aangekondig dat dié party weer — ná jare se afwesigheid — ’n voltydse partyverteenwoordiger vir die dorp beoog.
Marcelle Maritz, provinsiale leier van die party, en Stolla Stoltz, inwoner en sakeman wat beoog om hom vir die party beskikbaar te stel, was ook teenwoordig tydens die vergadering wat by Peet se Padstal buite die dorp plaasgevind het.
Die mense wat die vergadering bygewoon het, het onder meer gekla oor swak dienslewering in die dorp, veral by munisipale kliëntedienssentrums waar fone net aanhou lui en mense ure lank in rye moet wag. Hemelhoë belastingheffings is ook geopper.
Inwoners van die hoewes in Noodhulp, Roodepoort en Bospoort het by Maritz gekla dat toegangspaaie nie deur die munisipaliteit in stand gehou word nie en hul voertuie beskadig word. Hulle ondervind daagliks kragonderbrekings wat nie aan beurtkrag gekoppel is nie en ly skade met toerusting wat onderwerp word aan onegalige stroomvloei.
“Geen klag is te klein of te eenvoudig as dit jou raak nie. Ek raai mense aan om klagtes onverwyld by die owerhede aan te meld,” het Maritz gesê.
Sy het onderneem om die klagtes te ondersoek.
Stoltz en Maritz het inwoners aangemoedig om hul stem dik te maak teen die wysiging van die grondwet met betrekking tot grondonteiening sonder vergoeding. Kommentare kan nog tot einde Februarie ontvang word.



