Verkeersbeampte herstel self slaggate
Vir ’n verkeersbeampte van Mookgophong, Trevor Webster, is dit nie te veel gevra om self hand by te sit en te help om die talle slaggate in die dorp op te vul nie.
Webster en André Joubert, ’n sakeman in die dorp, het die taak op hulle geneem om so veel as moontlik van die slaggate met sement op te vul. Volgens Webster probeer hy en die verkeersafdeling om van hulle kant af die gemeenskap in alle opsigte by te staan en is die vul van slaggate een manier.
Joubert het ’n foto waar Webster een van die gate vul op ’n sosiale mediagroep geplaas en die reaksie van inwoners was só positief dat hy skoon oorweldig is.
“Daar is so ’n negatiewe beeld van verkeersbeamptes. Ons word altyd daarvan beskuldig dat ons nie ons werk doen nie. Ek is so dankbaar vir sulke positiewe mense wat ons soms wel bedank vir wat ons doen,” het Webster aan Die Pos gesê.
Die verkeersbeamptes is soggens besig met oogtoetse en die baie ongelukke wat in die omgewing voorkom en juis daarom lyk dit soms asof hulle nie sigbaar genoeg is nie, het hy gesê.
Webster het in die dorp grootgeword en in 2002 by die munisipaliteit as verkeersbeampte begin werk. Hy het in 2008 na die Oos-Kaap verhuis, maar vyf jaar later, in 2014, teruggekeer na sy grootworddorp.
Hy het ’n passie vir die dorp en sy mense en sê hy sal die gemeenskap na die beste van sy vermoë dien. Hy het die publiek en inwoners wat klagtes het oor kinders wat sonder lisensies bestuur, gevra om na vore te kom met inligting sodat die skuldiges voor stok gekry kan word. Wetsoortreders sal beboet word, het hy gewaarsku.
Hy het ook gesê die vul van die slaggate is ’n voortdurende taak wat hy sal voortsit sodra daar weer sement beskikbaar is.



