Gawie Richter, Modimolle, skryf:
Wanneer inwoners weer met die ou pad tussen Mookgophong en Mokopane ry en by Moorddrift kom, let gerus op die bergreeks regs in die verte.
Aan die voet van hierdie berg het die bejaarde Olckers-egpaar gedurende die begin van die 1970’s geboer toe hulle spoorloos verdwyn het.
Hulle het ’n aangenome seun gehad en dié se dogter doen steeds navraag oor die verdwyning van haar ouma en oupa.
Ongelukkig is die ondersoekbeampte oorlede, maar mag die volgende inligting lei tot berusting.
’n Man is ná die verdwyning van die egpaar by die Silverton-polisiestasie aangehou. Hy het glo sy aandeel in die egpaar se moord bekend gemaak en sou die volgende dag die lyke gaan uitwys.
Daardie nag het hy homself in sy sel opgehang en is sy medepligtige tydens ’n jaagtog in ’n gesteelde motor doodgeskiet.
Dit het die ondersoek na die verdwyning van die Olckers-egpaar afgesluit. ’n Raaisel wat ná al die jare steeds nie opgelos is nie.



