Bewerings het die ronde gedoen dat kerklede van die International Pentecostal Holiness Church (IPHC) weer in ’n gewelddadige stryd gewikkel is. Dié voortslepende stryd spruit uit die betwiste eienaarskap van ’n stuk grond in die Radium-omgewing.
Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het bevestig dat skote afgevuur is, maar gesê die presiese gebeure word nog ondersoek.
’n Man is teen ongeveer 01:35 by die Bafana Bafana Tuck Shop by die Masakhane-nedersetting in die boud geskiet. Die verdagte het glo lukraak skote afgevuur, het Maponya gesê. Die slagoffer is na ’n plaaslike hospitaal vir behandeling geneem. Volgens die polisie is ooggetuies onwillig om inligting aan die polisie te verskaf.
’n Polisiehelikopter het later die oggend oor Radium gevlieg om die gebied te moniteer.
Die vermeende aanvaller het glo kort ná die voorval in ’n onbekende voertuig van die toneel gevlug.
Dit is tans onduidelik of die skietery verband hou met die IPHC-geskil, het Maponya gesê.
Die polisie ondersoek intussen ’n saak van poging tot moord. Niemand is teen druktyd in hegtenis geneem nie.



