Covid-19 laat sport in die hek duik
Die organiseerders van die Waterbergfees-rugbykompetisie het besluit om dié saamtrek voorlopig uit te stel nadat die Blou Bulle rugby-unie (BBRU) ’n verklaring uitgereik het dat alle oefening en wedstryde in Limpopo en Gauteng gestaak moet word.
Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa op Sondag 15 Maart aangekondig het dat Suid-Afrikaners alles in hul vermoë moet doen om die verspreiding van die Corona-virus te verhoed. Kort ná die aankondiging is verskeie groot sportgeleenthede gekanselleer.
Die Waterbergfees-rugbykompetisie is die voorloper vir die liga wat later vanjaar sou plaasvind. Altesame 11 rugbyklubs — Amandelbult, die Rhino’s, die Kwaggas, Marble Hall, Mogol, Potgietersrus, Naboom, Vaalwater, Nylstroom, Thabazimbi en Loskop — neem aan dié kompetisie deel.
Die Kwagga-rugbyspan van Bela-Bela en die span van Marble Hall rugbyklub het op Saterdag 14 Maart by Hoërskool Warmbad kragte gemeet. Aanvanklik was die reëling dat hul op Amandelbult sou speel.
Die Kwaggas het Marble Hall met 19-10 geklop. Afrigters en spelers was dit eens dat hulle vol moed vir die nuwe seisoen is, aangesien hul spankombinasies goed werk.
Die BBRU het ongelukkig die Kwaggas se momentum gestuit deur voorlopig alle plaaslike rugby-oefeninge en wedstryde tot Dinsdag 14 April op te skort.
Die BBRU het spelers aangeraai om steeds op hul eie te oefen en fiks te bly. Afrigters sal ongeveer twee weke ná 14 April weer met spanoefeninge mag begin. Wedstryde sal na verwagting op Saterdag 25 April kan afskop.
Alle vergaderings tussen die unie en die onderskeie klubs wat beplan is, is ook uitgestel tot verdere kennisgewing.
- Marna van der Merwe, sportkoördineerder van Hoërskool Warmbad, waar die meeste sportbedrywighede in Bela-Bela plaasvind, het by navraag aan Die Pos gesê die skool se beheerliggaam het besluit dat geen sportaktiwiteite tot verdere kennisgewing by die skool mag plaasvind nie.
Die Kwagga-rugbyklubbestuur het teen druktyd gesê hulle beplan ’n noodvergadering in die komende week. - Die Corona-virusuitbraak het duisende sportmanne en -vroue se planne en voorbereiding in die wiele gery.
Die bestuur van die 5150-driekampbyeenkomste wat landwyd (en plaaslik in Bela-Bela) beoog word, raai deelnemers en vrywilligers wat simptome van die siekte ervaar aan om mediese hulp te verkry. Wedlope is nié amptelik gekanselleer nie, maar die organiseerders raai deelnemers aan om die media dop te hou vir die moontlike aankondiging van nuwe datums. - Die Warmbad-marathonklub het ook voorlopig alle beoogde pretlope gestaak nadat Atletiek Suid-Afrika (ASA) ook op Maandag 16 Maart bekend gemaak het dat alle wedlope tot Dinsdag 14 April afgelas moet word.
Meer inligting sal bekend wees nadat dié 30 dae tydperk verstryk het.
- Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter
Beste leser,
As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.
Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.
Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.



